Nóg swaar reën vir noorde voorspel

Donderbuie word vir die res van die week vir die noorde voorspel (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Suid-Afrikaners in die noorde van die land kan hulself voorberei vir nog swaar reën wat na verwagting tot Vrydag sal voortduur. Dit volg nadat stormweer reeds die afgelope naweek tot oorstromings in gedeeltes van Gauteng gelei het.

Wayne Venter, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê verdere donderstorms word van Maandagmiddag vir Gauteng, KwaZulu-Natal, die Hoëveld van Mpumalanga asook die sentrale en westelike gedeeltes van Limpopo voorspel. Hierdie donderstorms kan tot Dinsdag in hierdie provinsies voorkom.

“Teen Dinsdag sal daar vir hierdie provinsies slegs ’n 30%-kans op reën wees met geïsoleerde donderbuie in sekere dele van die provinsies,” sê Venter.

Die weerdiens voorspel van Woensdag wydverspreide reën vir bykans die hele land.

Die Hennopsrivier in Centurion in vloed (Foto; Gauteng Weather, Twitter)

“Teen Vrydag behoort die meeste van die reënweer oor die land op te klaar. Mooi en warm weerstoestande word vir die naweek verwag. Inwoners van die noordelike dele van die land kan hulself staal vir erge hittetoestande die naweek.”

’n Klein kouefront sal ook teen Vrydagmiddag die suidelike kus van die Wes-Kaap tref wat koue weerstoestande en ligte reën vir hierdie provinsie inhou.

Volgens Venter het dele van Johannesburg en Centurion van Saterdag tot Sondag tussen 50 en 70 mm reën aangeteken. Laagliggende brûe het oorstroom en die Hennopsrivier in Centurion was teen Sondagoggend in vloed.

“Haelstorms aan die Oos- en Wes-Rand het ook verdere skade veroorsaak. Baie bome is reg oor Gauteng weens stormsterk wind ontwortel.”

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, het Sondag gesê die swaar reën en donderstorms het die afgelope naweek kragonderbrekings in gedeeltes van Johannesburg veroorsaak.

Laagliggende brûe het oorstroom en voertuie meegesleur (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Weens erge skade wat Saterdagaand deur die storm aan die Nursery-substasie in Roodepoort aangerig is, is kragtoevoer onderbreek. Die substasie se dak is deur sterk wind afgeruk en van die toerusting is beskadig.

“Die skade kon nog nie herstel word nie en tegnici moes Sondagmiddag herstelwerk staak weens swak weerstoestande. Ons hoop die skade word teen Maandag herstel.”

Erge skade wat Sondag omstreeks 16:00 aan die Sebenza-substasie in Edenvale veroorsaak is, het ook die kragtoevoer aan voorstede in die noorde, sentrale en ooste van Johannesburg beïnvloed. City Power-tegnici is ontplooi om die skade te assesseer en die fout te herstel.

Nog gebiede wat deur kragonderbrekings geraak word, is Florida, Floridapark, Floracliff, Ontdekkers, Selby, Gresswold, Cydna, Alexandra, Westfield, Orchards, Observatory en Bellevue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dup ·

Ons kan net hoop dat SA se waternood so gou moontlik verlig word.

Mieke ·

Ek hoop dat die Vrystaatse boere, wie se weivelde afgebrand het, ook goeie reën gekry het…. hulle het dit so nodig…

JohanR ·

Hier in die Kaap mis ek eintlik die reen op die dak, en nog beter as dit ‘n sinkdak is…..jy slaap soe lekker. Hier rol die reen in land toe van die see se kant af, en jy weet nie eers hy het gekom tensy jy hom teen die venster sien, of hoor hy val nie. Nie soos in die noorde waar die wolke opbou, bymekaar trek, dit word pers en donker, die weerlig slaan, die donder donder, en dan val hy, en na ‘n ruk slaap jy. Hier in die Kaap het ons partykeer wonderlike weerlig en donder veral uit see se kant toe. Nogal ‘n ding om te behou daai lang weerlig strale op die see.

Riaan ·

Brakpan en omstreke het ook ‘n baie groot storm gehad gistermiddag. Bome is omgewaai, huise se dakke afgewaai en mure omgeval. Ons het so 80 mm reën gehad die naweek. Halleluja

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.