Nóg talle vas ná Hermanus-betogings weer tot geweld lei

Die gewelddadige betogings wat in Maart vanjaar in Hermanus in die Wes-Kaap gewoed het.

Altesaam 19 mense van die Zwelihle-nedersetting in Hermanus in die Wes-Kaap is vandeesweek in hegtenis geneem nadat betogings op die dorp weer opgevlam het.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het die nuus bevestig. Volgens hom is die groep mense almal op aanklag van openbare geweld in hegtenis geneem nadat ʼn herwinningsentrum en ʼn oordragstasie vir die tydelike verwydering van afval aan die brand gesteek is.

Die geweld hou verband met betogings wat sedert die begin van die week weer op die dorp chaos gesaai het. “Die 19 mense sal almal binnekort in die Hermanus-landdroshof verskyn,” het hy bygevoeg.

Die plofbare situasie in Zwelihle word glo steeds deur die polisie gemonitor. Van Wyk het gesê die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe sal op die toneel bly om verdere verwoesting te voorkom.

Intussen bly verskeie ondernemings in die omliggende area se deure Vrydag steeds gesluit uit vrese dat die betogings weer sal opvlam. Die Overstrand-munisipaliteit het egter bevestig dat die R43 weer oopgestel is en dat winkelsentrums in die gebied weer hul bedrywighede voortgesit het.

Dele van die Schulphoek- en Swartdam-paaie was teen Vrydagoggend steeds gesluit.

Dié 19 mense se inhegtenisnemings volg nadat meer as 1 000 betogers Woensdagoggend vroeg die strate ingevaar en paaie met klippe en brandende bande versper het.

Gemeenskapslede betoog glo uit ontevredenheid nadat ʼn 35-jarige gemeenskapsaktivis, wat ook die leier van die sogenaamde Zwelihle Renewal-groep is, in hegtenis geneem is.

Die 35-jarige man word van aanhitsing tot geweld beskuldig. Hy is saam met vyf ander persone, tussen 23 en 28 jaar oud, in hegtenis geneem wat van openbare geweld aangekla word.

Die leier van die Zwelihle Renewal-groep is in hegtenis geneem nadat die Overstrand-munisipaliteit die afgelope naweek klagte van aanhitsing tot geweld en die opsetlike beskadiging van staatseiendom by die plaaslike polisie aangemeld het.

Die munisipaliteit het glo foto’s en bandopnames van die voorval ter sprake aan die polisie oorhandig. Die groep is vasgetrek ondanks ʼn memorandum wat aan die polisie oorhandig is waarin die Zwelihle-gemeenskap geëis het dat aanklagte teen die gemeenskapsaktivis teruggetrek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Indien dit nou al so lyk, is ons in vir die geweldadigste verkiesing in die geskiedenis.
Die regerende meerderheid se hoedhase raak al hoe minder.

Nadine ·

Gee ons asseblief ‘n eie land voor die hele land in chaos gedempel ondergaan.

HPV ·

Die hele land is klaar vasgevang in anargie. Die onluste is ook meer as in die apartheid-era. Een groot mislukte staat.

marco polo ·

Ek is bevrees n eie land gaan nie gegee word nie, dit sal gevat moet word. Ek hoop almal wat hierdie versugting het, besef wat dit gaan beteken. Maar ek ondersteun dit heelhartig.

Lani ·

Helen Zille dink nog sy gaan hulle toespreek toe word sy met klippe bestook en moes onder beskerming wegskarrel.

Wilma ·

So gan als ten gronde in Afrika. In Eerste Wereld Land sal betogers ni voorreg he om eise te stel aan die wet ni. Dit gebeur net in rommellande

Penellope Jones ·

Lae-intensiteit oorlog en anargie met ‘n regering wat nie ‘n saak daarmee het nie.

Lena Jonk ·

Dit is vir my skokkend om te sien wat nou in die Kaap aangaan, dit was dan altyd n vredeliewende deel van die land waar daar soveel vreugde en opgwondenheid tussen verskillende rasse was dit was altyd n plesier om daar te gaan vakansie hou. Wat en wie het dinge nou so sleg en onaangenaam gemaak daar? Baie hartseer. Staan op Kapenaars en maak dit weer n plek van trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.