‘Nog te seer’ om oor klein Henry te praat

Klein Henry Bosman het langer as ’n week ná die ongeluk vasgebyt voor hy Sondag oorlede is. Foto: Facebook

Die vyfjarige Henry Bosman, wat die naweek oorlede is nadat hy onder ʼn veeldoelige laaigraaf op sy ouers se plaas beland het, se pa was Woensdag nog te bedroef om oor sy seuntjie se dood te praat.

Mense landwyd en ook in die buiteland het van Vrydag 5 Oktober af vir klein Henry gebid nadat hy tydens ʼn fratsongeluk van die laaigraaf afgeval het waarop hy en sy boetie, Ian (3), saam met hul pa op hul plaas in die distrik Petrus Steyn in die Oos-Vrystaat gery het.

Sakkie Bosman (41) het Woensdag aan Maroela Media gesê dis nog te gou om die media oor hul groot verlies te woord te staan. Henry is vroeg Sondagoggend in die privaat hospitaal op Bethlehem oorlede nadat hy sedert die ongeluk in ʼn geïnduseerde koma gehou is.

Sy ma, Elle (38), het dag en nag by Henry gewaak en gebid. “Sy gaan soggens net stort by die vriende by wie ons hier op Bethlehem bly,” het Bosman verlede week vertel, “maar dan kom sy dadelik terug hospitaal toe.”

Amper 2 500 Facebook-gebruikers het by die groep Bid saam vir Henry Bosman aangesluit. Hulle het Sondag hartseer gereageer op die nuus van sy dood.

“Ons kan nie weet hoe julle voel nie,” het Marlene Roodt geskryf. “Ons kan julle wel in ons gebede opdra en by Jesus se voete plaas. Mag Hy vertroosting bring.”

“ʼn Engeltjie het huis toe gegaan,” was Marie Steyn se trooswoord. “Sy werk op aarde is volbring. Die Leidsman het Henry se pad bepaal. Die Stuurman het deur hierdie ongeluk vir Henry uitgestuur om ander te bereik. Die Roepman het hom huis toe geroep ná afhandeling van sy taak.

“Mag die gesin en ons almal dit aanvaar dat Henry baie spesiaal was voor die aangesig van ons Koning. Laat ons dan, te midde van die hartseer wat die gesin nou ervaar, die Here loof en prys vir Henry se lewetjie hier op aarde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sons ·

So ‘n pragtige engeltjie…. Liewe Koning, Heer en Heiland, hou die gesin en familie wat so rou en stukkend is styf vas in die holte van U hand en vertroos hulle. Amen….

Tammy ·

Pragtigste seuntjie. Ai , so hartseer. Mag God die ouers, familie en nabye vriende vertroos. Ek kan my eie trane nie beteul nie.

Alida ·

Dit is n tragiese en ongelukkige ongeluk. Baie sterkte aan sy ouers.

oumie ·

Dit kan ek verstaan… Julle is in ons gedagtes en gebede, liewe pappa en mamma en geliefdes van Henry. Mag God julle dra en innig versterk in Sy liefde.

Thinus Erasmus ·

Asseblief pa’s en ma’s: moenie dat jul klein kindertjies so op die trekker modderskerms en ander masljienerie ry nie, dit is net so gevaarlik soos daardie oop swembad.
Nie agterop bakkies staan en oorhang, sonder sitplekgordels in motors, by oop vensters uithang en hou hul weg van die vure en stowe asb.
My meegevoel aan familie.
Ns. ek het self al van bakkie afgeval net oor 10cm hobbel in pad, en ek het so gesit om ‘n kind te beskerm – weg te hou van die kant af.

Marlene ·

Mag Ons Vader julle as gesin toevou in Sy Groot sterk Hande. Dit is die seerste seer wat n ouer kan beleef.Julle sal vertroosting vind by Ons Hemelse Vader. Suid Afrika, kom ons bid vir hulle, want saam sal ons glo dat die Vader hulle sal vertroos. Sterkte

Skiewies ·

Dit is die mooiste ou seuntjie …… Baie sterkte aan mamma en pappa en die res van die familie ek kan my nie indink wat julle moet deurmaak nie ek het self n ou laat lammetjie wat nou 4 is…. Dit is nie nou tyd om verwyte rond te slinger nie die Liewe Vader het besluit om klein Henry te kom haal en ek glo nie daar is enige iets wat enige iemand kon doen om te verhoed dat die Here se wil geskiet nie. Dit bly seker die seerste seer en mens sal nooit verstaan hoekom nie, vrae sal daar altyd wees……

Marinda Van Tonder ·

Ai my hart is saam met julle seer – mag julle berusting kry dat hy nou rond hardloop in liewe Jesus se tuin. Hy is heel en gesond en op die beste plek waar hy kan wees. Mag vrede en liefde julle omvou en tyd genesing bring.

Morris ·

Ek is stukkend! Die menslike brein kan nie die dinge verstaan nie. Ek wens ek was naby genoeg om die Ma en Pa en klein boet net n lekker vertroostende drukkie te gee. Mag die Vader julle toevou in Sy arms en vir jul die nodige verstroosting gee.

Linda ·

Skielik onthou ek die ouerpaar wie se seuntjies by die bakkie uitgeval het toe hulle om ‘n draai gery het op hulle plaas …. en ervaar weer die seer namens die ouers. Hoe maak mens dit sagter? Net tyd heel ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.