‘Nog te veel probleme met aansoekplatform vir Gauteng-skole’

gauteng-aanlyn-registrasie-toelating-skole

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlyn registrasiestelsel vir gr. 1- en 8-leerders in 2020. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Hoewel die Gautengse onderwysdepartement van die probleme met die aanlyn registrasiestelsel hanteer het, lewer die stelsel in geheel nie die beloofde of gewenste resultate nie.

Dít is die mening van Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). Hy sê die jongste kwessie wat nou aan die lig gekom het, is probleme met die integriteit van die stelsel.

“Fedsas het die departement tydens ʼn vorige toetslopie gepols oor onder meer die stelsel se vermoë om groot getalle aansoeke te hanteer. Die departement het ons die versekering gegee dat die stelsel 50 000 gebruikers gelyktydig kan hanteer, maar dit lyk of die stelsel steeds sukkel om hierby uit te kom,” het Colditz gesê.

Fedsas het op 10 Mei spesifieke probleme met die platform aan die onderwysdepartement uitgelig, wat aansoeke vir die plasing van gr. 1- en 8-leerders by die provinsie se skole in 2020 aanlyn hanteer. Van die probleme wat toe bespreek is, was die stelsel se logika en gebruikersinteraksie. Sekerheidsaspekte rakende die stelsel is ook met die departement bespreek.

Ná AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum die onderwysdepartement met regstappe oor die stelsel se gebreke gedreig het, is die opening van die aanlyn aansoeke met ʼn week na 20 Mei uitgestel.

Volgens Colditz het sy organisasie Woensdag weer dringende kommunikasie aan die Gautengse onderwysdepartement gerig om navraag te doen oor sekerheidsprobleme met die stelsel ná mediaberigte wat beweer ʼn enkele aansoek het glo herhaaldelik op verskillende skole se aansoeklyste verskyn.

“Hierdie wesenlike aantal dupliserings is ingesluit in die oorspronklike resultate en statistieke wat deur die departement gekommunikeer word. Dit skep ʼn wanindruk van die funksionering van die stelsel.”

Colditz het gesê Fedsas het van die begin af die standpunt gehuldig dat, indien die stelsel nie werk soos beloof nie, die organisasie sy volle regte voorbehou om op te tree om die belange van skole wat sy lede is te beskerm.

“Fedsas is gewillig om sy volle samewerking te gee, maar as die departement nie die stelsel in sy geheel kan waarborg nie, sal Fedsas sy lede moet inlig dat die organisasie nie langer die proses in hierdie formaat kan ondersteun nie.

“Uiteindelik gaan dit nie oor die gebruik van tegnologie nie, maar oor die korrekte instellings van die bepalings van die Grondwet. Fedsas is nie oop vir onderhandeling hieroor nie en die organisasie sal optree om seker te maak dat daar aan alle wetlike vereistes voldoen word.”

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, meen daar is vanjaar meer probleme met die stelsel as in die verlede.

“Ons het nie verlede jaar soveel klagtes ontvang soos vanjaar nie. Die aanlyn aansoekplatform van die provinsie plaas ouers onder verskriklike druk en veroorsaak groot onsekerheid,” het Bloem gesê.

Die stelsel het Maandag gesukkel om ouers se woonadresse te verifieer en te skakel met ʼn kaartstelsel wat voorstelle vir skole naaste aan die adres verskaf.

Dit het veroorsaak dat talle ouers ʼn opsie moet kies wat hulle binne die voedingsgebied van 30 km-radius om die skool plaas. Dié soort aansoek het ʼn WA4-verwysingnommer ontvang in plaas van die WA1-verwysingsnommer wat aansoekers nader aan ʼn spesifieke skool gewoonlik sou ontvang.

Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse onderwysdepartement, het Dinsdag bevestig sy departement is bewus van die probleem en gee aandag daaraan.

Volgens hom is die onderwysdepartement egter oorweldig met positiewe terugvoer van ouers oor die stelsels.

“Die departement beloof om alles in sy vermoë te doen om die stelsel so probleemvry moontlik te maak.

“Dit is egter belangrik dat ouers aanlyn aansoek moet doen om die plasing van hulle kinders vir 2020 in gr. 1 en 8. Hierdie stelsel is die toekoms en dit verskaf ʼn gelyke geleentheid vir alle ouers om aansoek te doen om plasing van hulle kinders by openbare skole.”

Mabona het gesê die departement het klagtes ontvang van ouers wat eers administratiewe vorms by sekere skole moes invul voordat hulle die nodige dokumente by die skole kon inhandig om die aansoekproses te voltooi.

“Skole mag dit nie in hierdie aansoektyd doen nie,” het Lesufi gesê.

Die stelsel sluit om middernag op 22 Julie en die plasing van leerders in die provinsie sal tussen 30 Augustus en 30 September voltooi word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andreas ·

Duidelik is die stelsel gemanupileer om Fesufi te pas, so kan mens duidelik sien uit berigte en artikels die afgelope paar dae. In een artikel hier op Maroela is ook gesê dat die stelsel maak nie voorsiening vir woonadres nie. Nou sal mens graag wil weet wat Fedsas en die ander rolspelers ook hieromtrent doen, of is hulle nie gepla daaroor nie, net solank die stelsel ‘werk’, krom of skeef of om ‘n ‘verskuilde’ agenda te pas?

Maria ·

Ek is nog steeds daarvan oortuig dat hierdie rassis net in sy eie belang optree.Wie gaan die vervoer verskaf vir die kinders wat 30km van die skool bly.Die blanke,afrikaanssprekende belastingbetaler.Daar was niks verkeerd met n Afrikaanse skool toe sy kinders daar was nie.Dink mnr.maar ek dink nie jy kan nie.NN jle moet maar blok want dis die waarheid

Gert van Wierdapark ·

Die grootste probleem wat die stelsel het, is in alle waarskynlik mini-ster Lesufi!

Pieter du plessis ·

Daar hoef net gekyk te word wie in beheer is van die simpel sisteem wat net geld mors is sodat n rassis sy posisie kan misbruik om teen afrikaans sprekende kinders te diskrimineer.

JJ ·

Hierdie is net ñ “stelsel” geskep sodat die ontwikkelaars en kaders kan skep ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.