Nóg teenkanting teen Eskom se yslike verhoging

(Foto: pixabay)

Nog organisasies het teenkanting gebied teen Eskom se aansoek by die nasionale energiereguleerder (Nersa) dat ʼn 20,5%-verhoging vir die 2022‑’23-boekjaar landwyd ingestel moet word.

Jennifer Glover, VF Plus-raadslid in die Ekurhuleni-metroraad, sê die Ekurhuleni-koalisieregering, waarvan haar party deel is, het ʼn skrywe gerig aan die uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, waarin die koalisie sy teenkanting uitspreek teen Eskom se voorgestelde tariefverhoging van 20,5%.

“Die verhoging is onredelik weens verskeie faktore soos die heersende hoë werkloosheidskoers. Die voorgestelde verhoging is ook ver bo die inflasiekoers van 5.5% wat ʼn aanduiding is dat inwoners dit eenvoudig nie kan bekostig nie,” sê Glover.

Sy meen die gevolge van die 2020/2021-inperkings is nog lank nie verby nie. Talle sakeondernemings is nog onder druk en ander was genoodsaak om hul ondernemings af te skaal of selfs die deure te sluit.

“Eskom sal moet herbesin oor die verhoging. Die publiek word reeds tot die uiterste beproef deur die swak ekonomie en die punt is bereik waar gewone salaristrekkers bloot nie ʼn buitensporige verhoging soos hierdie sal kan bekostig nie.”

Randall Williams, uitvoerende burgemeester van Tshwane, sê die stad verwerp ook die buitensporige tariefverhoging wat Eskom voorstel. “Dit is uitbuiting en sal ʼn nadelige impak het op inwoners in Tshwane en finansiële volhoubaarheid in die stad.”

Die nasionale tesourie het ʼn verhoging van 8,5% voorgestel, maar Eskom het in ʼn aansoek by Nersa ʼn rits dubbelsyfer-verhogings versoek oor die volgende drie jaar. Die kragvoorsiener het ʼn 20,5%-verhoging gevra vir 2022-’23, gevolg deur 15,07% vir die daaropvolgende jaar en ʼn 10%-verhoging vir die jaar daarna. Indien dié voorstel goedgekeur word, sal elektrisiteit van Eskom binne drie jaar byna 50% duurder wees as wat dit tans is. “Dit sal ʼn dramatiese en negatiewe impak hê op inwoners, ondernemings en die stad,” verduidelik Williams.

“Ons besef dat Eskom finansiële probleme ervaar en sy sakemodel wil omkeer, maar die verantwoordelikheid kan nie aan verbruikers oorgelaat word nie. Die realiteit is ongelukkig dat, selfs met dié buitensporige verhogings, is Eskom-dienste steeds nie gewaarborg nie. Inwoners en ondernemings beleef steeds gereeld kragonderbrekings.”

Williams is besorg dat ʼn tariefverhoging ook sal lei in ʼn toename tot onwettige verbindings, omdat die koste van elektrisiteit onvolhoubaar sal word vir inwoners met ʼn laer inkomste en wat nie kan bekostig om onafhanklik te word van die kragvoorsiener nie.

“Eskom moet beperk word tot enkelsyfer-verhogings. Dit sal belegging en groei stimuleer wat noodsaaklik is dat ons ekonomie werkloosheid en armoede kan takel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

casper ·

Aag nee man — Hierdie spul moet ook hulle Ferrari’s en Lambo’s kan bekostig — Hou op kla en betaal !!

Shakespeare ·

Met al die brandstigters aangehits deur die ANC/EFF Hoe moet Andre kophou ??? Hulle wil hom uitgooi want hulle haat vooruitgang.

Pablo ·

Wat n absolute sirkus. Ou de Ruyter moet maar vir hom en sy Eksdom maatjies goedkoper ryperde kry.

Nie Verbaas ·

Dit is algemene kennis dat daar te veel werknemers by ESKOM is. Menige studies het dit en onbevoegdheid al uitgewys. Nou moet ons meer betaal vir hopeloosheid?

Nico ·

Die verbruiker kan net betaal en betaal nie, kyk, na die plekke soos Soweto wat hoeveel miljoene agterstalig is.

Pieter ·

In plaas daarvan dat Jan Publiek gemelk word deur gereelde tariefverhogings, waarom doen Eskom nie iets aan onwettige aansluitings nie, want “die gewillige” betalers betaal ook vir die verbruik deur die aansluitings!?!?

Anoniem ·

Belê nou in ‘n sonkrag stelsel, met die stygende kostes en ewigdurende beurtkrag sal dit die beste belegging vir ‘n huishouding wees. Begin by die geyser en vervang alle ligte met LED.

Marius ·

Wat van geen verhoging nie sodat die gebruikers wat wel betaal vir krag so bietjie kan asem skep ?

Piet parys ·

Daar is n transformer te kort in die land maw sonder transformers is eskom n nutteloos . Lyne word nou oorlaai en gekoppel aan ander lyne net om doe memse krag te gee en dan pop daai transformers ook .maw hulle kan tariewe lig soos hulle wil en dit as verskoning gebruik vir onbevoegdheid .

Miskruier ·

Dit raak tyd dat Eskom betaal vir die 25 pale wat oor ons plaas heen loop, ek betaal my dom vir die een paal en transformer wat krag huis toe vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.