Nog teëspoed vir Koeberg-eenheid

(Argieffoto: Armand Hough/ANA)

Die sukkelende eenheid 1 by Koeberg, wat vroeër vanjaar maande lank buite werking was, het weer ingekonk.

Eskom het laat Woensdagmiddag gesê die eenheid se reaktor het reeds Maandag om 16:30 uitgeskop weens ʼn fout met die elektriese stroomverbrekers na een van die primêre verkoelingspompe. Die reaktor is daarna veilig ingevolge die bedryfsprosedure afgeskakel.

ʼn Aanvanklike soektog na die fout het probleme met die primêre pomp of die motor uitgeskakel en volgens Eskom is daar nie tans enigsins kommer oor kernkragveiligheid nie.

Teen Dinsdag is daar vasgestel dat die oorsaak vir die probleem  ʼn stukkende elektriese beskermingsekering was. Dit het veroorsaak dat die motor uitskop.

Die verlies aan Koeberg se eenheid 1 beteken ʼn kapasiteit van 900 MW is nie vir die kragnetwerk beskikbaar nie. Dit het vroeër vanjaar, toe die eenheid ook buite werking was, tot lang beurtkrag gelei.

Eskom het destyds sy algemene bestuurder by die kernkragsentrale geskors terwyl ʼn ondersoek na die prestasie van die aanleg gedoen is. Riedewaan Bakardien, die kragvoorsiener se hoofkernkragbeampte, is in Junie aangewys om die bestuur van die aanleg oor te neem.

Die eenheid sal na verwagting oor die naweek weer in diens gestel word.

Die afskakeling en reaksie op die probleem was eenvoudig en dit was nie nodig om enige veiligheidstelsels in werking te stel nie, sê Eskom.

“Die Nasionale Kernkragreguleerder hoef nie goedkeuring te gee vir die aanskakel van die stelsel nie, hoewel die reguleerder op die hoogte gehou word van die situasie, die bevindings en die stappe wat gedoen word,” lui Eskom se verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Deon ·

Hulle moet pasop hier, daar is darem maar baie skop hier en skop daar… Is daar nie beter terme as uitgeskop nie?

Jan Seerot ·

Uitklink, is die regte woord. Die klank is anders wanneer so ‘n skakelaar uitklink. Ek stem saam dat “uitskop” ‘n powere poging is.

Riekert Arend ·

Ek gaan saam stem met Strandloper dit is ‘n tydbom.
Veral as die ministers nie eers die land se jaarlikse begroting van papier af kan lees nie, Hoe de duiwel kan mens hulle dan vertrou met kernkrag?
Dis’ n tragedie wat wag om te gebeur.

Jaco ·

Ek sidder nou al vir die dag wanneer ‘n regstellende aksie aangestelde eskom werker die verkeerde knoppie by Koeberg druk. Nuclear meltdown gevare sal dan 4 miljoen mense in Kaapstad bedreig.

koos10 ·

As jy die minister vra wat die probleem is, dan ia dit seker weer sabotasie.

MakersMark ·

“Nie kommer oor kernkrag veiligheid nie” ….die feit dat Eskom ‘n kernkrag eenheid bedryf is reeds heeltemal genoeg rede tot kommer. Die maatskappy se geskiedenis om 150 jaar oue tegnologie van ‘n steenkool verhitte stoomketel en turbine voldoende te onderhou en veilig te te bedryf spreek vanself. Kader ontplooing, korrupsie en swak werketiek gaan nie hand aan hand met kern krag tegnologie nie.

Elinette ·

Pleks dat Eishdom geheel en al UITGESKOP word en ons begin kyk na opsies vir VOLHOUBARE energie wat nie die mens se koolstofspoor op die wêreld in geheel vergroot nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.