Nóg tronkbeamptes kry Covid-19 in Wes-Kaap

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het bekend gemaak dat die getal Covid-19-gevalle onder gevangenes en beamptes tot 700 gestyg het.

Volgens Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, het 229 beamptes en 471 gevangenes reeds positief vir Covid-19 getoets, met altesaam 137 mense wat van die virus herstel het.

Nxumalo het gesê in die Wes-Kaap het nog agt beamptes en een gevangene positief getoets. Altesaam 49 gevangenes en 140 beamptes in die provinsie het al positief getoets, twee sterftes is aangemeld en 53 van hulle het reeds van die virus herstel.

In die Oos-Kaap het nog 14 gevangenes en twee beamptes positief getoets. Altesaam 413 gevangenes en 74 beamptes in die provinsie het positief vir Covid-19 getoets en twee sterftes is aangemeld. Volgens Nxumalo het 72 van hulle reeds van die virus herstel.

In Limpopo het twee beamptes positief vir Covid-19 getoets en een personeellid van die virus herstel. In Gauteng het sewe beamptes en nege gevangenes positief getoets en 10 van hulle het reeds van die virus herstel.

In die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal het daar onderskeidelik twee beamptes in elke provinsie positief vir Covid-19 getoets. In die Vrystaat het een beampte positief getoets. Daar is ook een beampte wat positief getoets het by die departement se hoofkantoor, maar reeds van die virus herstel het.

Die aankondiging rakende die aantal positiewe gevalle onder gevangenes en beamptes kom nadat Zweli Mkhize, minister van gesondheid, bekend gemaak het dat altesaam 19 137 bevestigde Covid-19-gevalle nou reeds in Suid-Afrika aangemeld is. Die getal gevalle het met 1 134 in 24 uur toegeneem.

Die grootste toename in gevalle is in die Wes-Kaap en die Oos-Kaap aangemeld. Nog 30 Covid-19-verwante sterftes is aangemeld en die land se dodetal staan nou op 369. Vyf nuwe sterftes is in die Oos-Kaap aangemeld en 25 in die Wes-Kaap.

Die Wes-Kaap het steeds die meeste Covid-19-gevalle (12 153) en 63% van die land se gevalle kom in dié provinsie voor. Gauteng het 2 453 gevalle (12,8% van die land se gevalle) en die Oos-Kaap het tans 2 324 bevestigde gevalle (12% van gevalle landwyd).

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Die ding van die Wes Kaap laat my kop krap. Is dasr iewers ‘n Politieke slang in die gras

gatgogga ·

Wat verwag hulle ? Hulle het duidelik nie genoeg bandiete vrygelaat nie.

JM ·

En dan moet 19 000 gevangenes vrygelaat word! Om die virus verder te versprei. Hulle het nie kos en woonplek nie. Ideale geleentheid om weer misdaad te pleeg. Behoede ons!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.