Nóg twee betogings vandeesweek by Brackenfell beplan

Mense raak verlede week slaags buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad. (Foto: ANA)

Terwyl die Pan Africanist Congress in die Wes-Kaap regmaak om Woensdag na die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad op te ruk, sê die EFF hy is Vrydag weer terug by die skool om te betoog.

Die skool was die afgelope twee weke vasgevang in ʼn rasseherrie nadat die EFF kapsie gemaak het teen ʼn private geselligheid wat ʼn groep matrieks van die skool gehou het. Daar was glo geen swart leerders by die geselligheid nie.

Skote en vuiste het daarna geklap nadat ouers van die skool en inwoners van die buurt met betogers buite die skool slaags geraak het. Die polisie moes eindelik ingryp.

Die skool se beheerliggaam het hom intussen tot die hof gewend in ʼn poging om betogers te stuit om weer daarheen op te ruk. Die hooggeregshof in Kaapstad het die aansoek egter tot 2 Desember uitgestel.

Die skool het die geweld vroeër ten sterkste veroordeel en gesê hy het reeds verskeie stappe gedoen om diversiteit by die skool aan te moedig.

Guillaume Smit, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het Dinsdag gesê die skool het reeds gebeurlikheidsplanne ingestel om leerders se veiligheid te waarborg.

“Ons prioriteit is om te verseker dat onderrig voortgaan,” het hy gesê.

Intussen het ʼn 22-jarige voormalige leerder van die skool ʼn klag van intimidasie by die polisie ingedien nadat hy glo doodsdreigemente ontvang het. Siya Ntuntwana het vroeër gesê hy is op sosiale media gedreig nadat hy oor rassisme by die skool gepraat het.

Maroela Media het navrae oor die beoogde betogings aan die departement van onderwys en die  polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Phillip

Lees ek reg 22 jarige leering wat is die hoogtste ouderdom om skool te gaan . kan 30 jarige ook skool toe gaan dis n man en nie meer n kind nie sal ek se

Andre

Dis seker vir die hof ‘n baie moeilike besluit.

Willem

Dan moet die ouers en ander mense ook maar weer daar bymekaar kom. Hof kan mos nie besluit nie

Kokerboom

Hof se besluit: uiters pateties!!! Dit was ‘n noodkreet van skool

Elize

Regter Desai is seker ook maar vir die EFF