Nóg twee brand met aansteekjel

Argieffoto

Argieffoto

Twee Maroela Media-lesers wat erge brandwonde opgedoen het nadat hulle deur aansteekjel gebrand is, het na vore gekom ter ondersteuning van ʼn poging deur ʼn regspraktyk om die produk van die mark te verwyder.

Riaan van der Merwe, ʼn prokureur van N Van der Merwe Prokureurs, het Maandag ʼn beroep op slagoffers gedoen om na vore te kom as hulle met die jel gebrand het. Dit volg nadat die jongste slagoffer, Arno van Greunen (7) van Meyerton in Gauteng, die dag vantevore in ʼn Johannesburgse hospitaal oorlede is. Arno het voorverlede Saterdag erg gebrand het toe ʼn bottel aansteekjel (“cooking gel”) in sy pa se hande ontplof het. Lees meer hier.

“Twee lesers het ons na aanleiding van die berig geskakel en van hul ondervinding vertel,” het Riaan se vrou Noelene, wat saam haar man in die praktyk is, aan Maroela Media gesê.

“Die een slagoffer woon in Kaapstad en het bevestig dat sy en haar gesin by vriende gaan kuier het waar daar ʼn etanol-brander op die tafel gestaan het,” het sy gesê. “Sy het verby die tafel geloop waarop die brander, wat vir estetiese doeleindes gebruik word, gestaan het. Toe sy verby loop, het die brander ontplof.” Die vrou het baie ernstige brandwonde aan haar gesig, nek en bolyf opgedoen toe die brandende jel wat in die brander was oor haar liggaam gespat het. Die vrou moes in die hospitaal opgeneem word, asook verskeie operasies ondergaan.

Die ander slagoffer besit ʼn lodge buite Pretoria en behartig ook die spyseniering by die lodge. “Sy het ʼn 2 liter bottel aansteekjel gebruik om ʼn houer te hervul wat sy onder ʼn spysenieringsbak gebruik het om ʼn gereg in die bak warm te hou,” het Noelene verduidelik. “Sy het die bottel jel op ʼn kas neergesit, die jel in die houertjie aan die brand gesteek en toe sy verby die kas loop, het die bottel skielik ontplof. Die bottel was nooit naby ʼn oop vlam nie. Die bottel het wel oopgestaan en die dampe het glo aan die brand geslaan, en op sy beurt die bottel laat ontplof.” Volgens Noelene het die vrou brandwonde aand die linkerkant van haar gesig en bolyf opgedoen. Sy moes twee weke in die hospitaal spandeer asook drie operasies ondergaan.

Die slagoffers se name en inligting is aan Maroela Media bekend, maar word vir eers weerhou terwyl hul sake voorberei word.

Van der Merwe Prokureurs tree op namens verskeie slagoffers wat met aansteekjel gebrand het, waar onder Isabella (Pippie) Kruger en Liana (Lulu) Rossouw en nou ook Arno van Greunen. Pippie het derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen toe aansteekjel tydens ʼn braai op Oujaarsaand 2011 in haar pa Erwin, se hande ontplof het. Liana (Lulu) Rossouw is op 23 Junie 2012 soortgelyk beseer, ook toe haar pa dié jel gebruik het om die vuur aan te steek.

“In die meeste gevalle waarvan ons kennis dra, buiten die een waar die brander ontplof het, het die bottel met die jel ontplof. Daar is nog nie gevalle aangemeld waar die jel in houertjies ontplof het nie,” het Noelene bygevoeg. “Hierdie aspek is uiters kommerwekkend en dit bevestig die mening van ons deskundige dat daar ʼn chemiese reaksie in die bottel plaasvind sodra dit oopgemaak word en die inhoud aan suurstof blootgestel word. Dit is nie noodwendig die jel wat ontplof nie, maar eerder die dampe wat vrygestel word, wat op sy beurt die jel aan die brand steek.”

Noelene het gesê hulle is op soek na nog slagoffers wat bereid sal wees om met hulle kragte saam te snoer om die “uiters gevaarlike en onstabiele produk” van die winkelrakke te verwyder.

“ʼn Gewone sigaretaansteker moet aan verskeie regulasies voldoen en waarskuwings bevat. Hierdie produk doen nie. Daar word gesê mense moet leer om versigtig te wees, maar al is mens hóé versigtig, is dit die produk wat onstabiel is en voordat dit nie uitgesorteer word nie, moet dit verwyder word,” het sy gesê.

Bel N Van der Merwe Prokureurs by 083 310 3972 of 083 449 9519.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nico ·

Ek self het byna ook so ‘n tragedie gehad sowat 4 jaar gelede. Ek wou ‘n vuuraansteek en nie ‘n vlam gesien nie. Toe ek nog van die gel wou bygooi het daar skielik ‘n masiewe vlam opgedkiet en ook uit die bottel. Gelukkig het daar niks tragies gebeur soos in die andergevalle nie. Ek dink een van die probleme is dat die vlam kleurloos is. Veiligste is dat dit verbied word!

Francois ·

Hierdie jel is gemaak om SLEGS in jel stowe gebruik te word. As mense dit vir ander gebruike gebruik, en nie die waarskuwings en die voorskrifte op die houer lees nie, moet hulle nie kla as hulle brandwonde opdoen nie. LEES DIE INSTRUKSIES (RTFI)

Sollie ·

Francois LEES DIE BERIG (RTF ARTICLE!) baie mooi. En staaadig. Veral die dele waar die prokureurs dit duidelik stel daar is NIE voldoende waarskuwings en regulasies waaraan die produk moet voldoen nie. Is jy dalk ‘n rep vir die firma dat jy jou so uitlaat oor dit ?

Francois ·

Sollie, moenie als glo wat ‘n prokureur se nie. Gaan na ‘n Supermark en gaan kyk vir jouself, dan sal jy met my saamstem – want dit is wat ek gedoen het.

Eish! ·

Ek was ‘n klein dogtertjie toe ons gekampeer het. ‘n Man het ‘n vuur aan die brand gesteek en wou uit ‘n 2l bottle nog brandstof op die vuur gooi. Die volgende het die man gegil en hy het erge brandwonde opgedoen. My pa het vir ons verduidelik die bottle het die vuur ingetrek en sodoende het die man vlam gevat. So die goue reel is volgens my, moet geen vloeistof wat vlambaar is in ‘n bottle naby enige vuur bring nie. Jy sien nie die gasdampe nie! Gooi eerder ‘n bietjie in ‘n bakkie uit en dan dadelik op die vuur en sorg dat jy los as dit nodig is. ‘n Mens kan nooit te versigtig wees met enigiets wat vlambaar is nie.

Verbruiker ·

Die produk is nie nalatig nie, nalatigheid lê voor die deur van die gebruiker. Die wat ons gebruik het waarskuwings en instruksies op en ons berg dit verantwoordelik en gebruik dit verantwoorderlik.
Dalk moet die ouers meer verantwoordelik op tree dan sal sulke ongelukke nie gebeur nie, wat is volgende … gaan ons nou karstoelle laat verwyder van die mark omdat dit nie self die kinders daarin vasgegespe het nie, die ouer is tog veronderstel om verantwoordelik te wees.

pop ·

Ek lees net een so berig en dan koop ek dit in my lewe nie weer nie. Hou op om dit te gebruik, rerig.

Lillian ·

Liewe Hemel, brandbare vloeistowwe naby oop vure …. julle mense maak my bang … wat het geword van die ou konvensionele manier van braai? Koerantpapier en hout? Of is ek nou uit die oude doos?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.