Nog twee dokters toets positief vir Covid-19

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Twee dokters van ’n hospitaal in Mpumalanga het positief getoets vir die nuwe koronavirus (Covid-19).

Dumisani Malamule, woordvoerder van die departement van gesondheid in Mpumalanga, het dit aan Maroela Media bevestig. Die dokters is werksaam by die Mmametlhake-hospitaal en woon saam.

Volgens Malamule het een van die dokters onlangs na Kaapstad en Johannesburg gereis waarna sy simptome getoon het. Die dokter is vir die virus getoets by ’n private laboratorium in Modimolle in Limpopo  waar sy oorspronklik vandaan kom.

Die dokter se huismaat in Mpumalanga, ook ’n dokter by die Mmametlhake-hospitaal, het intussen ook positief getoets. Albei is onder kwarantyn geplaas.

Malamule het gesê die departement is besig om ’n lys op te stel van alle persone waarmee die twee dokters moontlik kontak by die hospitaal gehad het. Die departement van gesondheid in Limpopo is ook betrokke by die naspeur van kontakte.

Maroela Media het vroeër berig dr. Zweli Mkhize het gesê ’n ander dokter in Mpumalanga het Covid-19 opgedoen nadat hy na die buiteland gereis het.

Getal gevalle per provinsie

Altesaam 1 326 bevestigde gevalle van Covid-19 is tans in Suid-Afrika aangemeld.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het Dinsdag gesê 11 gevalle is tot op hede in Mpumalanga aangemeld hoewel die provinsiale departement van gesondheid aangedui het dat dié getal op 14 staan.

Volgens Sasekani Manzini, LUR van gesondheid in Mpumalanga, is vier van dié gevalle in die Gert Sibande‑distriksmunisipaliteit aangemeld, waar Ermelo, Standerton en Bethal geleë is. Nog vier gevalle is in die Nkangala‑distriksmunisipaliteit aangemeld, waar Middelburg, Dullstroom en Delmas geleë is. Ses gevalle is in die Ehlanzeni‑distriksmunisipaliteit aangemeld, waar Nelspruit, Baberton en die Krugerwildtuin geleë is.

Volgens NIOS is 618 gevalle van Covid-19 reeds in Gauteng aangemeld, terwyl die getal gevalle in die Wes-Kaap op 324 staan.

KwaZulu-Natal het tans 171 bevestigde gevalle van Covid-19. Altesaam 72 pasiënte in die Vrystaat het reeds positief vir Covid-19 getoets. In die Oos-Kaap het 12 pasiënte positief getoets.

Limpopo het tans 11 gevalle van Covid-19. Die Noord-Kaap en Noordwes het onderskeidelik drie en agt gevalle.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karen ·

Syfers aangeteken of wat bekend gemaak word aan die media en mense is nie die werklike syfer nie. Dit is ongelooflik laag. Hier waar ek woon is die naaste toetsstasie vir COVID-19 nogals ‘n entjie om te ry, en met die streng regulasies soos wat dit nou is durf waag ek nie my voet by die deur uitsit nie. Nie dat dit verkeerd is nie, ek stem ten volle saam daarmee. Dit beskerm dalk ook nog ‘n lewe of twee. Ek hoop regtig die mobiele klinieke word ‘n werklikheid, maar, die skurke kan natuurlik nie wag vir die geleentheid ook nie, wat maak mens…..

Jan ·

Maar kyk na die atatistiek die corona is nie dodelik in verreweg die meestae gevall nie..omtrent almal in china is lankal gesond emn die land is up and running

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.