Nóg twee gesogte pryse vir plaaslike renosterdokumentêr

stroop-2019-05-02

STROOP is uiteindelik as die Beste van die Fees by die IWFF aangewys en het ook die prys as die Beste onafhanklike of vollengte rolprent ontvang. Foto: Verskaf.

Die Suid-Afrikaanse dokumentêr STROOP – Journey into the Rhino Horn War, is onlangs as die beste rolprent van die International Wildlife-rolprentfees (IWFF) in die VSA aangewys.

STROOP het teen talle grootskaalse produksies van instellings soos National Geographic, die BBC, PBS en Netflix vir die toekenning meegeding, wat gewoonlik die natuurlewe-rolprentlandskap oorheers.

Die rolprentmakers Susan Scott en Bonné de Bod sê dit was vir hulle ʼn groot verrassing om die nuus oor die pas afgelope Paasnaweek te ontvang.

STROOP se ontvangs wêreldwyd gaan net voort om ons te verras. Ons het gehoop die internasionale gemeenskap neem ten minste net kennis van ons benarde situasie met renosterstroping hier in Suid-Afrika, maar hulle het oorweldigend positief op die rolprent gereageer. Dit is nou ons 17de prys wat die dokumentêr, sedert hy ʼn paar maande gelede begin draai het, ontvang het,” het ʼn verheugde De Bod gesê.

“Om die waarheid te sê, ons wou aanvanklik die wêreldpremière van STROOP by die IWFF hou, en ons het daarvoor gemik, maar ons kon net nie die rolprent betyds klaar kry nie. Dit voel onwerklik dat die rolprent hierdie jaar deur hierdie vooraanstaande fees vereer word, waar ons bloot gehoop het dit sou vir die rolprentfees gekeur word. Dit is ʼn ongelooflike prestasie vir die rolprent en plaas weer eens ons renosters se stryd op die wêreldverhoog,” het Scott, die regisseur van STROOP bygevoeg.

Die tema by vanjaar se IWFF, wat in Montana in die VSA aangebied is, was “Aanpassing” met die fokus op mens en dier wat sukkel om by ʼn veranderende klimaat aan te pas, asook rolprentmakers wat jare aan ʼn storie werk en nuwe maniere vind om gehore bereik.

Carrie Richer, die fees se direkteur, sê dit is verstommend om te sien hoe rolprentmakers verantwoordelikheid geneem het om hierdie soort stories te vervaardig.

Susan Scott en Bonné De Bod op die toneel in die Kruger Nasionale Wildtuin by Satara. Foto: Jeffrey Barbee/Verskaf.

Meer as 300 rolprente van oor die wêreld is vir hierdie jaar se fees ingeskryf. Net 70 rolprente uit 36 lande is goedgekeur en is vertoon. STROOP is uiteindelik as die Beste van die Fees aangewys en het ook die prys as die Beste onafhanklike of vollengte rolprent ontvang.

“Selfs al dink jy jy verstaan die renosterstropingskrisis, moet jy steeds STROOP kyk. Dit ruk jou aan die hart en die toegang is ongekend. Die rolprentmakers is nie net simpatiek nie, maar ook dapper. STROOP sal jou bybly lank nadat jy die rolprent gesien het,” het die beoordelaars ná die dubbele oorwinning gesê.

Die IWFF word deur meer as 12 000 mense bygewoon en vooraanstaande wildlewe-rolprentmakers, -vervaardigers, -wetenskaplikes en -bewaringsleiers is betrokke. Die weeklange fees, wat deur ʼn jurie beoordeel word, erken wetenskaplike akkuraatheid, kunssinnige aanbieding en tegniese uitnemendheid van rolprente van oor die hele wêreld wat ingeskryf word. Chasing Coral, ʼn vorige IWFF-wenner in 2017, het voortgegaan om op die kortlys vir ʼn Oscar te verskyn.

STROOP is ʼn onafhanklike produksie van Scott en De Bod wat dit uit hul eie sakke en met skarebefondsing gefinansier het. Hulle het ook later toelaes ontvang om die rolprent in die redigeerkamer te voltooi.

Sedert die wêreldpremière by die San Francisco Groen-rolprentfees in September verlede jaar, is STROOP amptelik vir 25 rolprentfeeste gekies en het Journeyman Pictures in Londen die internasionale verspreidingsregte bekom. Die jongste twee toekennings van die IWFF was die 16de en 17de toekennings wat die dokumentêre rolprent ingepalm het.

STROOP is reeds beskikbaar op iTunes, Amazon en Google. DVD’s kan via www.stroop-film.com gekoop word. Die rolprentmakers is ook in gesprek met plaaslike uitsaaiers en is vol vertroue dat dit binnekort op Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

fred ·

Geluk..n suksesvolle dokumentêre wat n groot verskil maak…ons het meer van hierdie vroues nodig…baie geluk

Andreas ·

Dit is vir sulke mense wat mens ‘n standbeeld behoort op te rig.

marous ·

Wel gedaan . Opmerklik geen fondse van regerings kant af nie . Wonder op wie se tone sou daar getrap word …..

Regs! ·

Sal graag die dokumentêr wil sien. Haal my hoed vir die mense af wat so werk om ons renosters te beskerm. Dink egter nie dit sal ‘n verskil maak nie. Nie solank hooggeplaasde regeringsamptenare, polisie en ook weermagslede betrokke is by die stroopwerk nie.

humor ·

Groot , groot geluk. Ek wens julle al die pad net sukses toe. Mag ons meer van die soort beleef. Onwillekeurig dink ek daaraan wat sou gebeur het as Steve en multichorts ook betrokke was.

lb ·

BESTE nuus ooit! Baie dankie aan elkeen wat op sy of haar manier bydra, om ENIGE dier te beskerm of te red! Ek dink hier ook in die besonder ook aan ‘n vriend, Mike Beyl van die Czech – South Africa Anti poaching Foundation. En in die selfde asem is ek verplig om gereeld vas te kyk in ‘n stroper wat vir eie gewin, en om homself te verryk, hierdie pragtige diere kon skend en moor! en haat borrel binne my . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.