Nóg twee in Bloem vermoor, ses vasgetrek

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Nóg twee mense is Maandag in Bloemfontein vermoor nadat drie mense die naweek in Bloemspruit vermoor is. Die polisie het ses verdagtes in hegtenis geneem.

Konst. Peter Kareli, polisiewoordvoerder, het gesê die liggame van twee mans is in die vroeë oggendure met steekwonde in Fase 9 van Bloemspruit aangetref. “Die eerste liggaam is in die straat gevind. Die man het geen vorm van identifikasie aan hom gehad nie. Die ander liggaam, dié van ʼn 32-jarige man, is buite sy erf gevind.”

Kareli het gesê ʼn misdaadintelligensiegedrewe-ondersoek het die Bloemspruit-polisie na ʼn plakkershut in die omgewing gelei waar die ses verdagtes, tussen 20 en 32 jaar oud, aangekeer is. Bebloede klere en vier messe is in hul besit gevind.

Die jongste moorde volg nadat die liggame van drie mense Saterdag in die vroeë oggendure in soortgelyke omstandighede in die omgewing gevind is.

Die eerste liggaam is omstreeks 01:10 in Fase 10 gevind. Die man is in ʼn plas bloed aangetref met ʼn steekwond aan sy bors. ʼn Leë beursie het langs sy liggaam gelê. Hy het niks aan hom gehad waarmee hy onmiddellik geïdentifiseer kon word nie. Die motief vir sy moord was vermoedelik roof.

Die tweede liggaam is omstreeks 06:40 in Grassland gevind. ʼn Vrou, in haar vroeë 30’s, is in ʼn stormwatersloot gevind met steekwonde aan haar kop en snywonde aan haar wang en keel. Sy het ook geen identifikasie aan haar gehad nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om te bepaal of sy moontlik verkrag is.

Die derde liggaam, dié van ʼn man, is omstreeks 07:10 in Grassland 3 opgespoor. Die man het ook ʼn steekwond aan sy bors gehad en is moontlik beroof. Sy identiteit is ook onbekend.

Kareli het gesê die polisie is besig om inligting en bewyse te versamel om te bepaal of die verdagtes met die moorde oor die naweek verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.