Nog twee Kaapse polisiebeamptes vas oor korrupsie

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Die polisie in die Wes-Kaap het Donderdag gesê nog twee beamptes is in die provinsie in hegtenis geneem as deel van Projek Olifant – om korrupsie onder beamptes aan die lig te bring.

Die betrokke twee beamptes was by Strand-polisiestasie gestasioneer. Hulle is Woensdag in hegtenis geneem. ʼn 37-jarige sersant is by sy huis in hegtenis geneem op twee aanklagte van korrupsie. “Twee vuurwapens, waarvoor hy nie ʼn lisensie het nie, is in sy besit gevind en daar is beslag gelê daarop,” het Andre Traut, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy staan ook tereg op aanklagte van die onwettige besit van die twee vuurwapens.”

ʼn 39-jarige sersant is dieselfde dag in sy kantoor by Strand-polisiestasie in hegtenis geneem. “Hy staan ook tereg op twee aanklagte van korrupsie en bykomende aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom nadat sy huis in Gordonsbaai deursoek is. Die beampte kon nie ʼn verduideliking gee waarom hy in besit was van die plate van koeëlvaste baadjies nie,” het Traut bygevoeg.

Die twee beamptes sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Strand verskyn.

Die inhegtenisnemings volg nadat drie beamptes en twee vermeende dwelmhandelaars verlede week in hegtenis geneem is. Traut het gesê die polisie het aanvanklik met ʼn ondersoek begin oor huisrooftoge, sakerooftogte en kapings in Lwandle, Strand en Somerset-Wes. Die ondersoek is uitgebrei om ook korrupsie onder polisiebeamptes te ondersoek, onder die vaandel van Projek Olifant, wat al twee jaar lank voortduur.

“Die bestuur van die polisie het hul siening oor korrupte polisiebeamptes benadruk en ons vertrou dat die inhegtenisnemings ʼn sterk boodskap sal stuur aan korrupte beamptes,” het Traut bygevoeg. Hy het gesê nog inhegtenisnemings sal na verwagting binnekort volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

KarooKlong ·

Puik opvolgwerk gedoen. Baie goeie poging deur die “Bestuur” van die Polisie.

Leon ·

Skitterend SAPD! Mag julle Projek Olifant groei tot Projek Dinosourus.

Lance ·

Minste word die mense gevang in die Kaap in gauteng word hulle op betaalde verlof gesit

Ja nee ·

Ja nee hul is ten minste gevang, wys hul gesigte dat die wereld kan sien! Trots op polisie beamptes wat eerlik hul werk uitvoer!

Johan ·

Die arrogansie van die mense verbaas my – elke keer wanneer ‘n SAPD-lid gevange geneem word vir bedrog – stuur die Polisie-hoof dieselfde boodskap uit dat hulle nie korrupsie sal duld en hoop dat dit ander “vrot” SAPD-lede sal afskrik – maar nee die volgende dag word daar weer lede in hegtenis geneem vir bedrog. Dit is ondenkbaar dat daar soveel korrupte amptenare in diens is – nou gaan dit nie net so by die Polisie maar by ander afdelings ook – is daar werklik nog mense in diens van Staatsdepartemente wat nie net hulle “base”se voorbeeld volg nie – hulle kan mos die verskoning gebruik “baas” kom daarmee weg hoekom nie ek ook nie – maar wat hy mis die klein vissies word afgedank – die groot visse hou aan om room te skep

Hendrik ·

Dit is uitstekende nuus. Polisie beamptes het my en my familie een aand sonder enige rede deursoek toe ons na kers liggies in Strand gaan kyk het. Toe hulle niks op ons kry nie het hulle my kar deursoek. Nadat daar toe ook niks was nie het hulle waaragtig die vermetelheid gehad om ons te vra om vir hulle ‘n bucket KFC te koop omrede ons hulle tyd gemors het. Gelukkig het een van die polisie lede hulle oortuig om ons te los. Ons kon niks doen nie omrede hulle gedreig het om ons toe te sluit indien ons nie aan hulle eise voldoen nie. Net daar het ek ‘n absolute minagting vir die polisie ontwikkel.

KarooKlong ·

Hendrik, heroorweeg Polisie, maak dit eerder sekere lede van die Polisie.

Johann ·

Genadiglik sal die korrupsie nou ook in die ander DA metropole vasgevat word.

Sakkie ·

Ek is self in die Polisie al vir byna 40 jaar en kan jou verseker Hendrik dat nie alle Polisie lede korrup is nie. Onthou Polisie lede is “uit die gemeenskap”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.