Die liggame van twee seuns is Vrydag deur polisieduikers uit ʼn dam in Vleifontein naby Louis Trichardt in Limpopo gehaal.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die seuns, onderskeidelik tien en 15 jaar oud, woon in die Munzhedi- informele nedersetting. Hulle het glo Donderdagmiddag saam met vriende gaan swem, toe hulle vermoedelik in die moeilikheid geraak en verdrink het.
Volgens Otto is dit die derde geval van verdrinking in die provinsie vandeesweek. Nog twee seuns, onderskeidelik ses en agt jaar oud, het Woensdag in ʼn klein dam in Mashishimale in Namakgale, wes van Phalaborwa, verdrink. Dit is nie duidelik waar die derde verdrinking plaasgevind het nie.
Otto het die gemeenskap versoek om baie versigtig te wees wanneer hulle naby water is en het ʼn beroep op ouers gedoen om hul kinders te vergesel wanneer hulle gaan swem.
Geagte Marine / Maroela Media
Waarna verwys julle as julle die naam Makhado gebruik?
Na die nedersetting anderkant die Soutpansberg of die dorp Louis Trichardt?
As dit na laasgenoemde was moet ek julle herinner dat die dorp offisieel weer Louis Trichardt is. Gaan soek in MY se argiewe, 31 Oktober 2014 “Dorp kry ou naam terug.”
Feite moet asseblief korrek weergee word.
Danie
Dagsê Danie
Dankie dat jy ons daarop gewys het, dit was bloot ‘n oorsig dat dié fout ingesluip het.
Ek vermoed dit is maar die lang en uitgerekte proses wat veroorsaak dat daar nog soms onsekerheid is oor die dorp se naam.
Ons het die berig gewysig om die dorp se naam as “Louis Trichardt” aan te dui.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
Hallo Suné
Dankie vir die terugvoer, dit word waardeer!
Met dank.
Danie