Nóg twee leeus gestroop

Argieffoto

Skaars ʼn dag nadat twee leeus in die Vaalwater-omgewing in Limpopo vir hul liggaamsdele gestroop is, het nog twee leeus onder die hande van stropers in die provinsie deurgeloop.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Saterdag gesê die eienaar van ʼn wildsplaas het Vrydag die leeukamp gepatrolleer toe hy op die twee geskende karkasse afgekom het.

“Hy het dadelik die polisie ontbied en die polisie het vinnig gereageer. Albei leeus se koppe en pote is verwyder. Een van die leeus se borskas is ook oopgesny,” het Ngoepe gesê.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die leeus geskiet is voordat hulle geslag is.

Maroela Media het Vrydag berig die leeus wat in die Vaalwater-omgewing gestroop is, is vermoedelik vergiftig. Die verdagtes het die leeus se bekke en pote afgesny. Een leeu se maag was ook oopgesny.

“Niemand is nog in verband met albei die voorvalle in hegtenis geneem nie, maar ʼn volskaalse soektog is van stapel gestuur na die verdagtes.”

Die polisie het die leeustropery ten sterkste veroordeel en gewaarsku dat dié diere ʼn beskermende spesie is.

Die polisie doen ʼn beroep op die gemeenskap om met inligting na vore te kom wat hulle in hul ondersoek kan bystaan. Bel kol. Alpheus Mokale by 082 565 6524 of 0860 010 111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lou ·

Renosters, olifante….nou leeus. Waar gaan dit eindig? Ons sit opgeskeep met ‘n regering wat geen wil en vermoe het om enigiets aan die probleem te doen nie. In Botswana word poachers op die plek geskiet. Geen vrae, geen verhore…

M'Lady ·

Leeus is n beskermde spesie, maar word soos skape en beeste geteel, om deur trofee jagters afgemaai te word. Wat van die 800 leeu bene wat nou uitgevoer kan word? Die hele bedryf is siek en daar is geen regulering nie. Die stropers word ook nooit gevang nie.

Alida ·

Begin by die sangomas soek of is die polisie ook bang hulle word getoor. Belaglik.

Johannes Meintjes ·

Almal sit en bolle rol maar niemand kom samewekend by ‘n nuwe ekonomie waar almal werk het, uit nie. Honger en werklose (en verveelde) mense, van enige kultuur, doen enig-iets vir geld!

Withond ·

Waarvoor word die leeu se ligaamsdele gebruik? Klink na muti?

louise pretirius ·

Ons lewe in die tyd van die antichris wat die land regeer.kyk nuus oral oor in wereld is dit moord en doodslag.

Heleen ·

Die chinese gebruik dit..en so sal ons binnekort geen diere meer oorhê nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.