Nog twee Limpopo-ontsnaptes aangekeer

Die Kutama Sinthumule-maksimumveiligheidsgevangenis buite Louis Trichardt. Foto: Via Geogroup.com

Nog twee gevangenes wat uit ʼn maksimumsekuriteitgevangenis in Limpopo ontsnap het, is aangekeer.

Die polisie is steeds op soek na die oorblywende ses gevangenes nadat sewe aangehoudenes Donderdagaand ná ʼn oproer by die Kutama Sinthumule-tronk in Louis Trichardt ontsnap het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee mans is Saterdagoggend by ʼn huis in Shirley, Waterval, aangekeer.

“ʼn Lid van die gemeenskap het waardevolle inligting verskaf wat tot hul inhegtenisneming gelei het,” het hy verduidelik. “Die twee, Jabulani Isaac Mahlangu en Thomas Munyai, dien onderskeidelik tronkstraf uit op aanklagte van verkragting en moord.”

Drie persone is tot dusver weer in hegtenis geneem. Chris Faku (37), wat skuldig bevind is op aanklag van roof met verswarende omstandighede, is Vrydag aangekeer nadat die polisie ook ʼn wenk van die gemeenskap ontvang het.

Die oorblywende gevangenes is Phathutshedzo Nemadodzi van Thohoyandou (moord en roof met verswarende omstandighede), Ntshengedzeni Manukha van Thohoyandou (verkragting en roof met verswarende omstandighede), Nyota Raphael van Zimbabwe (huisbraak en diefstal), en Justice Makamo van Mosambiek (sakeroof).

Mojapelo het gesê die tronkbewaarders het lede van die openbarepolisie-eenheid en die taktiesereaksie-eenheid ontbied om die situasie in die gevangenis te stabiliseer. “Die polisie in Louis Trichardt ondersoek sake van brandstigting, opsetlike saakbeskadiging en die ontsnapping uit wettige aanhouding.”

Lees alle vorige berigte oor die Kutama Sinthumule-gevangenis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.