Nóg twee Mej. SA-kandidate gekap oor ou twiets

Bianca Schoombee (Foto: Instagram)

Nóg twee modelle wat hulle vanjaar vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf het, het die afgelope paar dae in die spervuur beland oor inskrywings wat hulle op sosiale media gemaak het.

Dit volg ná die 21-jarige model Bianca Schoombee haar verlede week aan die Mej. SA-kompetisie onttrek het nadat dieselfde met haar gebeur het.

Etlike ure nadat Schoombee op Twitter aangekondig het dat sy haar vir Mej. SA ingeskryf het, het mense die kommentaarveld van Schoombee se 2014-twiets gedeel en dit as rassisties bestempel omdat sy die N-woord gebruik.

Schoombee het haar Twitter-rekening gesluit, haar Mej. SA-inskywing teruggetrek en haar modelagentskap het hul kontrak met haar gekanselleer.

Nog twee modelle, Oneida Cooper en Zizile Mtembu, wat ook aangekondig het dat hulle die Mej. SA-kroon wil dra, loop nou onder dieselfde kritiek deur.

Oneida Cooper (Foto: Instagram)

Cooper, wat Suid-Afrika voorheen as ʼn professionele swemmer verteenwoordig het, het op 17 Mei aangekondig dat sy haar vir die Mej. SA-kompetisie ingeskryf het.

Daarna het twiets van tussen 2010 en 2013 waarin sy die N-woord gebruik weer die lig gesien. Cooper, wat dikwels as ʼn wit vrou geïdentifiseer word, word ook op Twitter daarvan beskuldig dat sy net haarself soos ʼn wit mens laat lyk wanneer dit haar pas, maar dat sy eintlik bruin is.

Cooper het Sondag op Twitter kommentaar gelewer op hierdie beskuldigings.

“Swart-identiteit in die Afrika- en politieke konteks is iets wat natuurlik kom en diep in my en my familie ingekerf is. Om vreemdelinge te hê wat my afbreek, my ras, my kultuur en politieke oortuiging wil bepaal, gaan ongelukkig nie dikteer wie ek is nie. Wanneer jy weet wie jy is en vir wat jy staan, kan niks en niemand jou pad verander nie,” skryf sy.

Oneida Cooper (Foto: Instagram)

Sy sê sy weet nou beter as ooit tevore dat daar dubbele standaarde is wanneer dit kom by Hip Hop-kultuur en die herhaling van sy lirieke.

“Ek is trots dat ek aanhou groei, leer en afleer deur ervarings. Ons moet vriendeliker en meer bedagsaam wees teenoor mekaar.”

Sy sluit af deur te sê sy is ʼn sterk, onafhanklike, trotse Suid-Afrikaanse swart vrou wat nooit ondergekry sal word deur bewimpelde teenspoed nie.

Mtembu se sosialemedia-inskrywings waarin sy mense spot oor hoe hulle lyk, het ook die lig gesien nadat sy aangekondig het dat sy Mej. SA wil wees. Sy word nou van aanlyn boeliery beskuldig.

In een van die inskrywings het Mtembu ʼn man op Facebook gespot deur te skryf dat sy tande geel is. Sy het ook in ʼn ander inskrywing gesê dat ʼn ander vrou se gesig soos ʼn botterskorsie lyk en dat sy self baie mooier is as dié vrou.

Zizile Mtembu (Foto: Instagram)

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, het in ʼn verklaring gesê dat almal wat ingeskryf het se inskrywings eers ná die sluitingsdatum, op 31 Mei, geassesseer sal word.

“Sodra ons op potensiële semifinaliste besluit het, doen ons die nodig agtergrondondersoeke. Daar is goeie prosedures om seker te maak dat die Mej. SA-finaliste met ons waardes strook,” sê Weil.

“Ons reëls stipuleer dat geen semifinalis betrokke mag gewees het in enige ongemaklike of onetiese voorvalle of optredes wat die Mej. Suid-Afrika-organisasie in onguns kan bring nie. Dit sluit onder meer rassisme, seksisme, omkopery en laster in.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Mag mense deesdae gladnie meer gewone mense wees nie? Wie is so volmaak dat hulle die eerste klippe mag gooi?

BoerSonderRoer

Dankie tog ons bly is ‘n vry samelewing waar almal perfek is.

War het geword van God se oordeel, al waaraan ons onsself deesdae meet is sosiale media se oordeel.

Onnie

Dis nou sommer simpel, maar ongelukkig is dit die reëls. Tog wens ek die mense wat al hierdie ou koeie loop uitgrawe het, ‘n kramp op ‘n baie diep donker plek sal kry. Hierdie vroue was in 2010 en 2014 nog pure onkundige kind, toe hulle daardie twiets gemaak het.

Sarel

Jaloesie maar ook die gevaar van Sosiale Media. Mense kan wat jy sê enige tyd teen jou gebruik, al wS dit gedoen gedurende jou Tienerjare.

Jacobus

Asof daar nie vandag ernstiger sake wat die aandag verg.
G’n wonder ons kom nêrens.