Nóg twee met springstof betrap

Springstof wat deur die polisie by Beitbrug ontdek is. (Foto: Saps)

Twee verdagtes is Woensdag met springstof in Mpumalanga betrap.

“Die polisie was op die spoor van ʼn moordverdagte in Barberton, toe hulle ʼn verdagte wit bakkie langs die pad sien staan. Die bakkie het die polisie se aandag getrek toe een van die verdagtes ʼn kosblik in die agterkant van die voertuig gooi. Die polisie het ondersoek ingestel en ʼn 4 m lange ontstekingskoord en 12 springpatrone in die motor gevind,” het brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder van Mpumalanga, gesê.

Die verdagtes is onmiddellik in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn. Hulle sal later die maand aansoek om borgtog doen.

Die twee is vasgetrek op dieselfde dag wat drie buitelanders deur die polisie by die Beitbrug-grens vasgetrek en ʼn groot hoeveelheid springstof en ploftoestelle in hul besit gevind is.

Die polisie is deur lede van die weermag, wat die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe patrolleer, in kennis gestel van die verdagte persone. Die twee mans en ʼn vrou, almal in hul vroeë dertigs, was besig om die grens na Suid-Afrika oor te steek met ʼn rugsak en twee tasse. Hulle is na die Musina-polisiestasie geneem, waar hul bagasie deursoek is.

“Hier het die polisie verskeie eenhede springstof en ploftoestelle geïdentifiseer. Dit sluit in ses rolle oranje ontstekingskoord, 50 eenhede lont en 65 eenhede springpatrone,” het ʼn woordvoerder van die polisie in Limpopo gesê.

“Springstof van dié aard is in die verlede gebruik om kitsbanke op te blaas en die inhegtenisneming van dié verdagtes kan moontlik die polisie help om die opblaas van OTM-masjiene hok te slaan,” het lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, gesê.

Die verdagtes het kort daarna in die landdroshof in Musina verskyn.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.