Nog twee partye sluit aan by Veelpartyhandves

(Foto: GCIS)

Die DA, IVP, VF Plus, ACDP, ActionSA, Isanco, UIM en SNP.

En nou ook die UCDP en Ekhethu People’s Party.

Dié twee opposisiepartye het hulle kort voor Kersfees by die Veelpartyhandves aangesluit in die hoop om in samewerking met ander opposisiepartye ʼn nuwe koalisieregering ná volgende jaar se verkiesing tot stand te bring.

Die Veelpartyhandves bestaan nou uit tien opposisiepartye wat hul kragte in die komende verkiesing wil saamsnoer.

Die Veelpartyhandves sê in ’n gesamentlike verklaring die United Christian Democratic Party (UCDP) is ’n “baie welkome toevoeging” tot die groepering aangesien hy verbind is tot die groep se kernbeginsels. “Die UCDP is in 1977 deur Lucas Mangope gestig en is die aktiefste in Noordwes waar ons vol vertroue is dat hy baie stemme van ontevrede voormalige ANC-kiesers sal kan wen.”

Die groep sê die nuutgestigte Ekhethu People’s Party is óók ’n goeie pasmaat “omdat hy breedweg in lyn met die Handves se kernregeringsbeginsels is”.

“Die Ekhethu People’s Party is in Gauteng gesetel en sal in 2024 nasionaal deelneem. Ons is vol vertroue dat die Ekhethu People’s Party baie stemme van voormalige ANC-kiesers sal wen wat ontnugter met die ANC geword het.”

Maroela Media het vroeër berig die Veelpartyhandves bied opposisiepartye die heel beste kans om die ANC te ontsetel, die mag buite die EFF se hande te hou en ʼn meerderheid van 50% plus 1 te behaal om ʼn alternatiewe regering tot stand te bring.

Altesame sewe partye het hul aanvanklik tot ʼn voorverkiesingsooreenkoms verbind in die hoop om ʼn nuwe koalisieregering ná volgende jaar se verkiesing tot stand te bring. ’n Uitnodiging is later aan ander opposisiepartye gerig om hulle by die groepering aan te sluit.

“Die totstandkoming van die Veelpartyhandves in 2023 het Suid-Afrika se politieke landskap verander en ʼn nuwe magsentrum tot stand gebring wat kiesers ʼn alternatiewe regering in 2024 met ʼn geloofwaardige pad na mag kan bied – ʼn regering gegrond op wenbeginsels.

“Hierdie beginsels bind ons as partye tot die Handves-ooreenkoms,” sê die partye in hul jongste gesamentlike verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jack ·

Ek het so nare idee dat die verloorder van volgende jaar se verkiesing nie die uitslag gaan/sal aanvaar nie..

minnie muis ·

anc gaan baie foefies kry van januarie af om weer die massas te vang met hul streke! en baie siele gaan die goed glo

Hendrik ·

Ons kry geen dienste van enige Metro/munisipaliteit en het oor 30 jaar eie dienste onwikkel : Water, elektrisiteit, rioolverwerking, welsyn, paaie, veiligheid en bewarea. Moet ons ook gaan stem?

Delia ·

Hendrik, verseker, in ons massas moet ons stem. Ons moet ook so probeer om ons toekoms in ons hande te vat. Al wen die ANC, setels in die Parlement is ook belangrik. Om die klomp te probeer stuit

Andre ·

…droom voort mense!
Dink julle werklik onse Julius en CR, gaan julle ‘n kans gee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.