Nóg twee politieke moorde in KZN

Argieffoto

ʼn Bekende ANC-aktivis en ʼn munisipale raadslid van die Inkatha Vryheidsparty (IVP) in KwaZulu-Natal is Vrydagaand in twee afsonderlike voorvalle vermoor.

Die name van Musawenkosi Maqatha Mchunu van die ANC en dié van Samkelo Dlamini van die IVP is nou deel van die lang lys leiers wat onlangs in dié provinsie vermoor is.

Mike Mabuyakhulu, sameroeper van die ANC se provinsiale taakspan in die provinsie, het gesê Mchunu is doodgeskiet toe hy Vrydagaand uit sy motor geklim het pas nadat hy by die huis stilgehou het. Mabuyakhulu het Mchunu se dood as ʼn koelbloedige moord bestempel.

Volgens hom was Mchunu een van vele ANC-lede wat kommer uitgespreek het oor talle kwessies rondom die ANC se provinsiale konferensie wat na verwagting einde vandeesmaand sal plaasvind en waartydens nuwe ANC-ampsdraers aangestel sal word.

Dlamini is in ʼn afsonderlike voorval, na bewering in Ulundi in sy motor, doodgeskiet. Joshua Mazibuko, woordvoerder van die IVP, het aan African News Agency (ANA) gesê sy dood kom aan die vooraand van dié party se nasionale raadsvergadering wat gaan fokus op kwessies oor gereedheid vir die nasionale konferensie.

“Ek wil nie bespiegel oor die moord nie, maar die IVP eis dat die polisie vinnig werk om agter die kap van die byl te kom,” het hy gesê.

Volgens ANA is meer as 80 politieke leiers sedert 2011 in KwaZulu-Natal afgemaai. Op 8 Mei is Sifiso Cele (42), ʼn tesourier van die Oshabeni-tak in die Ray Nkonyeni-munisipaliteit, voor sy lewensmaat en kinders doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Msp ·

My innige simpatie aan Raadslid Samkelo Dlamini van die IVP en sy gesin. Hoop dat die skuldiges van sy moord spoedig opgespoor sale word.

jaco ·

in SA is dan net gewone misdaad en gaan dit dan eintlik so goed. waar kom hierdie 2 moorde dan so skielik vandaan?

Spike ·

Die een oomblik kry mens moed as jy hoor van die misdaad bekamping samewerking, maar dan sak jou moed weer weg as jy lees van die moorde en onderwys man se sluipmoord poging in Kzn. Hy sou korrupsie blood lê in onderwys dept. Wys jou hoe die staat ingesuipel is deur mafia agtige mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.