Nog twee skuldig aan Leon Brits se moord

Suretha se twee medebeskuldigdes. Van links: Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) (Foto: Anja van der Merwe)

Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) wat aangekla is van die opspraakwekkende moord op die Noord-Kaapse hotelier Leon Brits (41), is Dinsdag skuldig bevind.

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, is Williams en Bareki skuldig bevind op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die besit van onwettige vuurwapens.

Williams en Bareki se verhoor het in Desember in die hooggeregshof in Upington, Noord-Kaap, afgeskop. Dit het Maandag voortgegaan.

Tydens die verhoor is bevestig dat Jacques van Vuuren, wat in Maart reeds skuldig gepleit het, vir Williams en Bareki destyds na Leon se huis geneem het, waarna hulle die moord gepleeg het.

Leon is op 7 Oktober 2020 verskeie kere met ‘n mes gesteek, met ‘n bofbalkolf geslaan en toe laastens met ʼn hondeketting verwurg. Sy liggaam is daarna in die swembad gegooi.

Na die moord het Suretha Brits, Leon se vrou, vir Van Vuuren, Williams en Bareki sowat 10 km buite die dorp ontmoet.

Brits is in November ingevolge ʼn pleitooreenkoms gevonnis. Sy het erken dat sy die moord op Leon beplan het.

Van Vuuren, Williams en Bareki is oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem. Van Vuuren is Maart verlede jaar tot 25 jaar tronkstraf gevonnis ingevolge ʼn pleitooreenkoms wat hy met die staat aangegaan het.

Williams en Bareki sal na verwagting Woensdag gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Staats ondersteunde moordenaars !!!

ROELOF

Baie bly dat die kriminele gemors so gou vasgetrek en skuldig bevind is. Wat ek nie kan verstaan is dat sommige sake n ewigheid neem . Hier op Modimolle byvoorbeeld n vrou wat haar eggenoot trompop geskiet het gedurende Desember 2018. Miskien twee keer voor plaaslike landdros verskyn. Nie een dag in sel of enge borg betaal. Met eerste verskyning voor regter ,die ou truuk uit die boeke.” Kan niks onthou”. Met gevolg nou moet die kop eers weer “gelees word”. Zuma taktiek loop wyd.

Jaco

“met die mes gesteek, met die bofbalkolf geslaan”… Huh… Watter mes, watter bofbalkolf?

Elmarie

Wat my altyd onder kry is dat die spul hul gesigte probeer verberg as hul in of buite die hof is. Vir wat, hulle was mos “braaf” om die moorde te pleeg, kom wees braaf en wys jou gesig. Mens sien dit keer op keer. Vieslike verby wat die hele spul gedoen het. Hoe wreed moet mens wees om iets aan ‘n mens, veral een wat jy nie eers ken nie, sulke walglike goed te doen. Mag die hele ou gespuis lank sit

Astrain

Daar moet ‘n voorbeeld gemaak word van eggenote wat hulle lewensmaats vermoor vir geld. Dis absoluut siek…skei dan liewers!