Nog twee sterf in ongeluk wat burgemeester eis

Jolidee Matongo, waarnemende burgemeester van Johannesburg. (Foto: Stad Johannesburg/Twitter)

Nog twee mense het omgekom in die motorongeluk wat Saterdagaand die lewe van die nuutverkose burgemeester van Johannesburg, Jolidee Matongo, geëis het.

Dit bring die dodetal op drie te staan terwyl twee van Matongo se lyfwagte in ’n ernstige toestand in die hospitaal behandel word.

Die burgemeester se motor het gisteraand na bewering vir ’n voetganger op die Goue Hoofweg, suid van Johannesburg, uitgeswaai toe dié oor die pad gehardloop het. Die motor het daarna teen ’n bakkie gebots.

Phindile Chauke, woordvoerder van die Stad Johannesburg, het Sondag aan Maroela Media gesê die bestuurder van die bakkie het intussen aan sy of haar beserings beswyk.

Die voetganger is ook intussen dood, berig News24.

Volgens Chauke is Matongo se twee lyfwagte “steeds in ʼn ernstige toestand, maar stabiel”.

Matongo (46) het voor die ongeluk nog by pres. Cyril Ramaphosa in Soweto aangesluit as deel van die ANC se verkiesingsveldtog.

Matongo het maar sowat ’n maand as burgemeester gedien.

Medelye stroom intussen in.

Herman Mashaba, ʼn voormalige burgemeester van Johannesburg, het sy skok oor Matongo se dood op Twitter uitgespreek.

“Politiek moet altyd laaste kom in sulke oomblikke. Hy is veels te gou geneem.”

Die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Mpho Phalatse, het op haar beurt gesê hoewel sy en Matongo verteenwoordigers van twee opponerende politieke partye was, het Matongo haar altyd met respek behandel.

Phalatse sê Matongo was in sy kort ampstermyn altyd bereid om haar oproepe oor diensleweringskwessies te neem.

Sy het die Johannesburgse burgemeester as “’n goedhartige individu” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Wonder wat was die spoed

Nie Verbaas

Seker weer soos besetenes gery. Hulle dink mos die paaie behoort net aan hulle en almal moet spring as hulle in die omgewing is. Weereens n geval van mag in n onbevoegde se hande.

Kompas

Wat soek die voetganger op die snelweg?? Volgens wet mag daar nie voetgangers op snelweg wees nie?

Winnie

Dis tragies met baie stof tot nadenke

B-Man

Hoekom vra niemand hier waarom daar ‘n voetganger op die snelweg is nie? Dis teen die wet! Maar die nuwe regering sit net ‘n waarskuwings bord op wat lees: “Pedestrians”. Voetgangers sal eerder hulle lewens waag as om die voetgangerbrug te gebruik wat 100m (of minder soms) uit sy pad is… geen opvoeding.