Nóg twee vas ná Melkrivier-aanval

Berdus Henrico en Estelle Nieuwenhuys. Foto: Via Facebook

Nóg twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die aanval op Berdus Henrico (39) en sy verloofde, Estelle Nieuwenhuys, voorverlede week in Limpopo.

Oudkol. Sakkie Louwrens, direkteur van die misdaadbestrydingsorganisasie Heritage Protection Group (HPG), het aan Maroela Media gesê die jongste inhegtenisnemings is Maandag in die vroeë oggendure gemaak tydens ʼn gesamentlike poging deur HPG en die trio-taakspan van die Lephalale (Ellisras)-polisie.

“Die verdagtes is positief verbind met die aanval op die plaas in die Melkrivier-omgewing en daar is tydens die mans se inhegtenisneming beslag gelê op geld, selfone en ammunisie,” het hy gesê. Die verdagtes se ouderdomme kon nie onmiddellik vasgestel word nie.

Maroela Media het vroeër berig die eerste twee verdagtes, onderskeidelik 32 en 48 jaar oud, is Vrydag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem. Die verdagtes moet binnekort in die Lephalale-landdroshof verskyn.

Die verloofde paar is op 6 Februarie omstreeks 21:00 deur drie gewapende mans op die plaas buite Vaalwater aangeval. Hulle was alleen in die huis op ʼn plaas in die Melkrivier-omgewing waar Henrico die plaas vir iemand bestuur.

Dit is nie duidelik hoe lank die aanvallers in die huis was nie. Henrico en Nieuwenhuys het in ʼn stadium in ʼn stoeiery met die aanvallers betrokke geraak, waartydens Henrico drie keer geskiet en aangerand is. Die aanvallers het ook op Nieuwenhuys geskiet en haar skrams getref. Die aanvallers het met elektriese ware en ʼn geweer op die vlug geslaan.

Henrico ontvang tans behandeling by ʼn private instelling in Bela-Bela nadat hy ná die aanval van bakboord na stuurboord by staatshospitale gestuur is.

Chrisna Henrico-Van der Merwe, Henrico se suster, het Vrydag aan Maroela Media gesê dit gaan in dié stadium nie goed met haar broer se gesondheid nie. Volgens haar is daar ontsteking in al die wonde wat vroeër deur mediese personeel behandel is.

“Daardie wonde lyk nou selfs slegter as voorheen. Ons is egter net bly dat ons dit gou genoeg besef het sodat dit nié sy lewe geëis het nie. Mediese kenners sê altyd dit is die infeksie ná die tyd wat die groot gevaar is. Ons het intussen ook uitgevind dat ʼn deel van sy nekwerwel afgebreek het op die plek waar die koeël verbygeskuur het. Dis nie soseer in dié stadium ʼn gevaar nie, maar dis wel pynlik.”

Van der Merwe het gesê Henrico gaan elke tweede dag hospitaal toe om die wonde te laat versorg. Hy ontvang ook pynmedikasie, maar geen ander behandeling nie aangesien hy nié ʼn mediese fonds het nie.

Die twee woon tans by familie in Bela-Bela. Van der Merwe het gesê hulle gaan wel na die plaas terugkeer. “Hy is nie iemand wat opgee nie. Dis hoekom hy daardie aand so verbete teen die aanvallers baklei het; hy sal nooit opgee nie. Boerdery is al van kleintyd af sy grooste passie en hy sal weier om van daardie plaas af weg te gaan. Ons het dit nog nie verwerk nie en daar was nog nie baie geleentheid om daaroor te praat nie, maar ten minste is hulle nou buite gevaar,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Al ·

Mag God se genade oor hom gaan en hy volkome herstel van sy beserings.
Sterkte aan sy gesin in hierdie diep beproewende tyd.

Jerry ·

Phillip dit sal baie help om die lesers in te lig oor wat die rede vir die aanval was, sou dit bekend raak tydens die verhoor.

J. van Pretoria ·

Ek tree vir jou in, spoedige genesing word jou toegebid!!!!

Liz ·

Ek is bitter jammer vir wat aan julle gedoen is! Ek hoop dat die gereg sal werklik begin intree!

As n geregistreede Verpleegster, moet ek sê, ek wonder waar het die persoon geleer om steke in tesit!! Seker die inligting in n lucky package gekry!! Ek as n suster kry so skaam om myself n suster te noem net na ek gesien het hoe sy steke ingesit is!! Dis werklik angswekend en ek is so dankbaar sy familie het ingetree! Mag God julle seen en styf vashou!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.