Nog twee vas oor R99-debietorder-bedrogspul

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

Nog twee mense is aangekeer in verband met die sogenaamde R99-debietorder-bedrogspul waartydens Suid-Afrikaners glo gesamentlik uit nagenoeg R248 miljoen geswendel is.

Ravenda Singh (50) en sy seun, Andrew (26), direkteure van ʼn oproepsentrum genaamd Sub User in Durban, is Woensdag in Johannesburg aangekeer. Die twee het hulle aan die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad oorgegee en is van bedrog aangekla. Hulle het dieselfde dag nog in die Palm Ridge-handelshof verskyn, waar hulle op borgtog van R30 000 elk vrygelaat is.

Die twee se inhegtenisneming volg op dié van Jason Foster (39) en Richard Marsden (51) wat reeds in verband met die beweerde bedrogspul aangekeer is. Foster en Marsden is op borgtog van onderskeidelik R30 000 en R100 000 vrygelaat. Foster is in Februarie by die OR Tambo-lughawe aangekeer, terwyl Marsden by die Kaapstad-lughawe vasgetrek is. Die twee is direkteure van die oproepsentrum Blue Debit en Talent Base.

Kapt. Ndivhuwo Mulamo, woordvoerder van die Valke, sê die beskuldigdes is ná ʼn forensiese ondersoek deur die banke met die beweerde bedrogspul verbind.

Hulle het glo ʼn bedrieglike bankbetalingstelsel geskep om ongemagtigde debietorders vir die oproepsentrums in te samel.

Die Valke se ondersoek het gewys dat die sindikaat glo nagenoeg R248 miljoen van niksvermoedende kliënte ingevorder het, waarna die geld na verskillende bankrekenings oorbetaal is.

Genl.maj. Ebrahim Kadwa, provinsiale hoof van die Valke in Gauteng, het die span vir die ondersoekwerk geloof.

“Ons het werklik simpatie met die bankkliënte wat slagoffers van die vermeende bedrieërs was,” sê Kadwa.

Die Valke het ook ʼn beroep op ander mense wat moontlik slagoffers was, gedoen om na vore te kom sodat die sake ondersoek kan word.

Die saak is tot 27 Mei uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Verkoop al hulle bates en betaal soveel as moontlik terug aan die slagoffers. Die banke het mos alles op rekord.

melaney ·

Om jouself op so ‘n manier te verryk werk eenvoudig nie. Al is dit in die hiernamaals, jou boude gaan lelik brand.

Misky ·

Borgtog is belaglik laag vir daai miljoene wat gesteel is. Hulle sal nie twee keer dink om te verdwyn nie.

Mundus ·

Ek was al in ‘n situasie waar my eie bank nie my geld vir my wou gee nie, toe ek my ID en kaart verloor het en nie kon bewys dit behoort aan my nie, maar hulle sal jou geld gee vir enige vreemdeling wat jou besonderhede op ‘n debietorder lys plaas. Die banke het lekker fooie verdien en hulle moet uit die aard van die saak, verantwoordlik gehou word vir elke liewe R99 wat hulle sonder magtiging aan hierdie skelms oorbetaal het.

Witbaard ·

Hy word op die lughawe betrap, maar kry steeds borg. Sy doel was mos om pad te gee, of hoe?

Frank ·

Lyk my twee van hulle op onderskeidelik die OR Tambo en Kaapstad lughawens

Jaco ·

Wat van die werkers in die oproepsentrums? Is hulle almal onskuldig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.