Nog twee vas oor Zelda van Niekerk se moord

Zelda van Niekerk (Foto: Facebook)

Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op Zelda van Niekerk, ʼn 45-jarige ma van Kaapstad.

Van Niekerk het op 28 September onder die N7-oorbrug op die N1 stilgehou om vir ʼn ander motorfietsryer te wag toe sy oorval is. Sy is beroof en in die maag geskiet en het later in die hospitaal aan haar wond beswyk. Hulle sou kinders na ʼn matriekafskeid in Vishoek begelei.

JP Smith, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid van veiligheid en sekuriteit, het aan Maroela Media gesê beamptes van die metropolisie se dwelm-en-bendetaakspan het die twee mans in Kensington in hegtenis geneem. Die verdagtes is na Maitland-polisiestasie geneem en sal binnekort in die hof verskyn.

Beamptes was ʼn week lank op hul spoor gebaseer op inligting van informante.

“Ons is trots op die metropolisie se inhegtenisnemings. Daarsonder sou [Van Niekerk] se sinnelose moord, soos talle ander, dalk ongestraf verbygegaan het. Alhoewel haar familie en vriende nog oor haar afsterwe treur, sal die feit dat die oorblywende twee verdagtes aangekeer is, dalk bietjie verligting bring,” het Smith bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig Lucien Ackerman (33) is ʼn paar uur ná die voorval in hegtenis geneem. Nadat sy woning in Kensington deursoek is, het polisiebeamptes beslag gelê op ʼn vuurwapen en ammunisie, asook bankkaarte en ʼn bestuurslisensie wat glo aan Van Niekerk behoort. Hy het Maandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn. Die saak is tot 23 November uitgestel en Ackerman bly in aanhouding tot dan.

ʼn Massa-motorfietsrit ter herdenking van Van Niekerk is in Kaapstad gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Dankie vir die SAPD se harde werk en die hulp van die INFORMANTE ! Boosheid sal altyd na die LIG gebring word DOEN SO VOORT ???

Gehasi ·

Dit was blykbaar die Metropolisie. SAPD is nie bekend vir vinnige effektiewe optrede nie.

John ·

Metro polisie het die speurwerk gedoen, SAP is besig om ander meer belangriker werk te doen soos om hulle voertuie wat wel nog loop by motorwasserye skoon te maak – jy weet mos, buite blink binne stink.

Elsa ·

Baie dankie aan die SAPD lede wat hard gewerk het om hierdie moordenaars op te spoor. Ons land het nog baie goeie mense, want sonder informante se samewerking kan baie van hierdie misdadigers nie gevang word nie.

John ·

SAP het min tot niks gedoen om die booswigte te vang nie, dit was die Kaapstad Metro se eie metro polisie wat die speurwerk gedoen het. Lees tog die berigte met begrip – dit sal help om nie aandadig te wees in die verspreiding van fop nuus nie. Sterkte met die taak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.