Nóg twee vroue die naweek vermoor

Argieffoto: Kent Williamson

Nog twee vroue en ’n kind is oor die naweek vermoor te midde van pres. Cyril Ramaphosa se beroep op Suid-Afrikaners om die kultuur van stilte rakende geslagsgebaseerde geweld in die land hok te slaan.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê die Gautengse polisie is op die spoor van ’n man nadat sy vriendin se liggaam Sondag in ’n buitekamer in Eersterus oos van Pretoria aangetref is.

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die slagoffer se kêrel, Clayton Andrews, Sondagoggend ’n familielid geld vir vervoer gevra het. “Hy het beweer dat hy ’n nuwe werk iewers gekry het aangesien hy werkloos is,” het Makhubele verduidelik.

Volgens Makhubele was Andrews die laaste persoon wat kontak met die oorledene voor haar dood gehad het. Die polisie doen nou ’n beroep op Andrews om hom by ’n polisiestasie aan te meld om die polisie in hul ondersoek by te staan.

Die Wes-Kaapse polisie het intussen ’n man in Belhar in Kaapstad in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n jong ma en haar dogter.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê die polisie ondersoek ’n saak van dubbele moord nadat twee liggame Vrydag by ’n huis in Belhar aangetref is. Die slagoffers is vermoedelik ma en dogter.

Tshegofatso Pule (Foto: Twitter)

“Die 27-jarige vrou het verskeie steekwonde aan haar liggaam opgedoen. Die sewejarige kind is dood op die badkamervloer aangetref. ’n 28-jarige man is daarna in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn op aanklag van moord,” het Rwexana gesê.

Ramaphosa het intussen die onlangse vlaag moorde op vroue in die land veroordeel.

Maroela Media het vroeër berig Tshegofatso Pule (28) se liggaam is verlede week aangetref waar sy aan ’n boom gehang is. Pule is vermoedelik met ’n skerp voorwerp gesteek voordat haar liggaam Maandag in Roodepoort aan die Wes-Rand aangetref is waar sy aan ’n boom gehang het. Pule was agt maande swanger.

Dít kort voordat nog ’n jong vrou se liggaam later die week onder ’n boom in Dobsonville in Soweto aangetref is.

“Dit was ’n donker en skandelike week vir ons as volk … Dit kan nie voortgaan nie,” het die president Saterdag in ’n verklaring gesê.

“Volgens die Suid-Afrikaanse polisie was daar ’n toename in geweldsmisdaad, veral moorde, sedert vlak 3 van die afsonderingstydperk ingestel is. Ons moet verstaan ​​watter faktore tot hierdie vreeslike neiging bydra en dit as samelewing dringend aanpak,” het Ramaphosa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SomeOne ·

c eria l was sy mond behoorlik as daar moorde onder “our people” is, maar wit mense moord het geen belangrikheid

Anel ·

Nou wie het vir wie vermoor en waar speel drank ‘n rol? Vergelyk met verlede jaar se statistiek voor jy iets sê.

Renee ·

Stem wys statistieke van laas jaar die tyd nie sederd die lockdown nie.

Plaaskind ·

Meneer die president, hou op agter kopdoeke weg kruip en bring die doodstraf terug…..
Die krimenle is nie bang om verkeerd te doen nie, want hul kom niks oor nie.

Renee ·

Plaas dat die polisie ophou om mense te vervolg van klein misdaad soos onwettige sigarette ens en te spog daroor dat reeds 230000.00 reeds gevang is en hulle eerder toespits op regte misdade, en wat het geword van die 70000.00 weermaglede wat ontplooi is moord word net meer en meer en moord op plaasboere of witmense maak nie saak vir hulle nie. Al wat mens hoor hulle soek die verdagtes

Lila ·

Slegs 16 dae van aktivisme oor geweld teen vroue is nie genoeg nie. Ons vroue EN KINDERS is weerloos en moet te alle tye beskerm word. Ek daag enige man wat lus is vir slaan om aan my te kom slaan en sy vrou of meisie te respekteer en om sy hande van kinders af te hou. Dit is LAAKBAAR.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.