Nog twee winkelgroepe verwyder ook dié haarprodukte

Foto: Makro/Facebook

Die groothandelaars Makro en Game het die jongste kettinggroepe geword om TRESemmé-haarprodukte van hul winkels se rakke te verwyder.

Makro en Game, wat deur Massmart besit word, het dié besluit op hul amptelike Twitter-rekeninge bekend gemaak.

Unilever, wat die TRESemmé-handelsmerk besit, het nog glad nie op die jongste verwikkelinge gereageer nadat hy Vrydag om verskoning gevra het vir die Clicks-advertensie wat tot die herrie gelei het nie.

“Ons is baie jammer dat die foto’s wat in ʼn TRESemmé-bemarkingsveldtog op die Clicks-webwerf gebruik is, rassistiese stereotipes oor hare bevorder. Die veldtog het ten doel gehad om die skoonheid van alle haarsoorte en die verskeidenheid oplossings wat TRESemmé bied te vier, maar ons het dit verkeerd verstaan. Die foto’s strook nie met die waardes van ons handelsmerk of die van Clicks nie. TRESemmé Suid-Afrika vra om verskoning vir die aanstoot wat dit tot gevolg gehad het.”

(Argieffoto: Massmart)

Die EFF het intussen ’n brief aan Alan Jope, uitvoerende hoof van Unilever, wat die TRESemmé-handelsmerk besit, gerig rakende die omstrede advertensie. Die EFF het die maatskappy 24 uur gegee om die kwessie rakende die advertensie op te klaar.

Makro se aankondiging kom kort nadat die apteekgroep Dis-Chem bevestig het dat hy ook nie langer TRESemmé-haarprodukte sal verkoop nie.

Woolworths, Pick n Pay en Shoprite het ook bevestig dat hulle die besluit geneem het om nie meer TRESemmé-haarprodukte te verkoop nie.

Clicks het Dinsdag aangekondig dat hy TRESemmé-haarprodukte van sy winkels se rakke gaan verwyder en eerder sy reeks plaaslike haarversorgingsprodukte gaan uitbrei.

Die gewraakte advertensie.

Dié winkelgroep het die afgelope naweek in die sop beland nadat hy ʼn TRESemmé-advertensie op sy webwerf geplaas het waarin na verskillende vroue se verskillende haarsoorte verwys word. In die advertensie word die byskrifte “frizzy & dull” en “dry & damaged” gebruik by die foto’s van swart vroue se natuurlike hare, terwyl die byskrifte “fine & flat” en “normal” by foto’s van wit vroue se natuurlike hare gebruik word.

Die DA het vroeër in ʼn verklaring gesê die verwydering van TRESemmeé-haarprodukte van winkels se rakke kan klein-, medium- en mikro-ondernemings (KMMO’s) se lewensbestaan in die gedrang bring.

Zakhele Mbhele, DA-woordvoerder oor kleinsakeontwikkeling, het gesê dit is jammer dat daar geswig is onder politieke druk deur die EFF sowel as die uitlatings van Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling.

“Die minister het versoek dat TRESemmé se produkte van Clicks se winkelrakke verwyder word. Hoewel dit korrek is om te beywer vir meer inklusiwiteit en diversiteit in die kleinhandelsaanbod van haarversorgingsprodukte, veral dié wat deur KMMO’s vervaardig word, is dit ʼn heel ander saak en onverstandig om te pleit vir die verwydering van huidige produkte.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Werner ·

Hier kom groot moeilikheid in hierdie land die EFF het meer as hulle sin gekry

Willem ·

Hier is klaar moeilikheid. Unies en ander partye regeer die land en ANC vat net die geld

Ilze ·

En die president sê nie n woord oor die skade wat hulle aangerig het nie.

ES ·

Verseker nie die EFF nie. Hulle hou vol dat hulle lede nie verantwoordelik is vir petrolbomme ens. nie.

Asof Clicks elke ander dag met petrolbomme bestook word…

Nie Verbaas ·

Lyk my al die besighede in SA dans nou na EFF se pype. Hierdie slapgeit gaan besighede nog kos. EFF gaan nou begin voorskryf wat op rakke mag wees en nie mag wees nie en ons regering aanvaar dit maar gelate.

Nie Verbaas ·

Dit is verbasend. Dan wonder ANC hoekom daar so baie wetteloosheid is. Want niks word aan kriminele gedoen nie. Baie hartseer

Annemarie ·

Gee vir n stout kind wat tantrum gooi sy sin, en jy gaan met die gebakte pere sit…

Ek is so teleurgesteld

Fritz ·

‘n Klein deeltjie van my wil wil so half die EFF se kant kies. Ek hoop hulle maak nog baie amok oor baie produkte. Die ruggraatlose maatskappye verdien immers wat na hulle kant toe kom.

Hannahoekom ·

Nou loop stem vir jou nuwe party in die volgende verkiesing!!!

Fritz ·

Jy verstaan my verkeerd. Ek verpes die EFF. Maar ek verpes die maatskappye wat na die EFF se pype dans, nog meer.

Daleen ·

En intussen moet die onskuldige verbruiker daaronder ly… NET omdat jy die “baie amok” wat EFF maak wil geniet. Nee Fritz jou kommentare is belaglik!

Misky ·

Met sulke kommentare kan ek sien dagga is nou wettig en mense ruk daai dam onder die eend

Connie ·

OOOO Is almal nou bang vir die EFF. Hulle neuk net die hele land op en kom verdomp niks oor nie. Mmmm ek wonder wie regeer nou eintlik die land CR of kopdoek of die eff. CR jy sal iets regtig moet begin doen oor daai rooi mannetjies, ek sien ook hier kom groot moeilikheid.

Skim ·

Die EFF regeer hierdie land. Hulle sit seker heeldag en soek redes om ‘n protesoptog te hou en belaglike eise te stel. Hul gee nie ‘n duit om vir mense wat hul werk verloor deur hul optrede nie. Hulle glo dat hierdie land vernietig en onregeerbaar moet word. Hul kan maak en breek en sê wat hul wil want hul kom niks oor nie. Sê net een ding vir my, die ANC keur hul optredes goed.

Mariana ·

En so gaan die EFF nog die hele land vernietig en hulle is nie alleen nie. Totale chaos is wat hulle wil hê, hul leier kry ‘n vet salaris ten koste van die mense wat hul werk verloor. Wonder wanneer hy goed vasgevat gaan word…….nooit want hy doen die vuilwerk vir iemand anders.

Hannahoekom ·

Dit is vir my uiters belaglik!! Ek gebruik self TRESemmè se produkte en het geen probleem met die produk nie. Hoekom ‘n fantastiese produk van die rak af haal??? As ek nie my sjampoo en conditioner op jou rak kry nie, koop ek summier ook nie weer by jou winkel nie….so maklik soos dit!!! Dis sommer bog dat almal spring as the EFF en hulle ondersteuners tantrums gooi!!

BFJ ·

Ek het hierdie week twee videos ontvang wat veronderstel is om snaaks te wees waarin daar op ‘n uiters neerhalende wyse verwys of “gespot”” word na/met blonde vroue en hulle sogenaamde lae intelligensie vlakke, onderontwikkeldheid en uiterste domheid. Dit word deur wit mense aangestuur wat hulle self wil doodlag daaroor want dit is dan veronderstel om snaaks te wees.

Maar ek dink steeds hierdie advertense is ‘n misverstand oor verskillende haartipes en word total buite verband geruk en nou waai die hare links en regs en swak gedrag en geweld is aan die orde van die dag.

Die stof sal egter weer gaan lê. Dit is deur die eeue al so. Dat die stof gaan lê. Tot die volgende ding of goete wat mense opwerk en rasend of briesend maak.

daniel ·

Politieke partye het meestal geen benul waar die geld vandaan kom wat hulle so lustig misbruik nie.
Hulle dink ook nie aan die werknemers se oorlewing nie.

Piet ·

EFF is die effektiefste opposisieparty in SA. Aggressief en geweldadig en dit werk.

Agge nee ·

Weet iemand waar kan ek 12 blikke Tresemme extra firm hold haarspray te koop kan kry? Ek is die wit vrou met die fyn haartjies sonder ‘body’ dws ‘flat’. So vinnig as wat probeer koop, haal die lafhartige winkels dit van die rakke af. Was nog besig om te bestel, toe haal Discem dit ook af. Ons is seker die lafhartigste nasie onder die son. Die EFF stamp hulle voete en ons hardloop stert tussen die bene weg.

Nozi ·

Ek gaan myne nou maar op Takealot bestel. Hul verkoop Tresemme produkte aanlyn.

LiveAndLetLive ·

Ek sien niks verkeerd met die advertensie nie, ek veronderstel jy sal seker daain sien wat jy wil sien as jy iets soek om te sien.
Op alle shampoo is (Dry hair, frizzy hair, flat hair, oily hair, dry hair) produkte beskikbaar vir verskeie haar tipes.
Wat is nou die groot probleem, dit is lagwekkend man. Ons het nie hier te doen met volwasse mense nie, meer soos om met n kind te probeer redeneer op 5

Pieter ·

Sjoe, daar is nou so baie patetiese, kruiperige winkels wat ek gaan boiket, weet nie meer waar ek kos gaan koop nie.

Blackies ·

Dan moet ons nou maar die Spar en privaat apteke ondersteun want volgens die berig besit die regering al die doen en late in die groot ketting groepe. Daar gaan nog ‘n paar werksgeleenthede in die drein af. Dankie EFF jul gaan binne die volgend jaar ‘n oorlog in die land van ons veroorsaak.

ES ·

Ek kan nou regtig nie verstaan hoekom Tresemme se produkte van die rakke afgehaal word nie, aangesien dit nie Tresseme se advertensie was nie…

As ek Tresemme was het ek vir Clicks gedagvaar vir verlies van verkope aangesien hulle die advertensie geplaas het. Want nou onttrek almal van Tresseme se produkte maar Clicks is die sondebok?

Lyk my die EFF het gekry wat hulle wou.

Ilze ·

Ek stem nie saam met die advertensie nie, dit gee aanstoot dink ek. Maar dit is die manier wat die EFF wegkom met hulle optrede wat my bekommer.

koos10 ·

As elke EFF ondersteuner ‘n bottel verniet kry, sal hulle dit in die drein afgooi of gebruik?

Wilhelm ·

EFF sê spring, en die groot besighede vra hoe hoog. Waar is die groot besighede met ruggraat?

sterk soos n beer ·

dis asof eff suid afrika oorneem en dat malema nou presodent van suid afrika is

Kompas ·

Kom nou net van Cresta winkelcentrum af waar die EFF voor Clicks lawaai gemaak en betoog het. Hulle het geëis dat die winkel sy deure moet sluit-wat hulle toe gedoen het. Om van naar te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.