Nóg tyd nodig vir rybewys-agterstand, maan AA

(Argieffoto: Arrive Alive)

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) is bemoedig deur die nuus dat die rybewysmasjien weer operasioneel is, maar is besorg oor die agterstand wat intussen opgebou het.

Motoriste ervaar reeds maande lank probleme met die hernuwing van rybewyse. Probleme by lisensiekantore het opgeduik nog lank voor die masjien, wat Suid-Afrikaanse rybewyskaarte vervaardig, na Duitsland gestuur moes word toe dit in November verlede jaar onklaar geraak het.

Die AA is besorg oor kapasiteit om die 2,1 miljoen motoriste te help wat hul lisensies voor die einde van Maart moet vervang. Die organisasie meen daar is nog tyd nodig om die huidige agterstand op te los.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het in Augustus verlede jaar aangekondig dat rybewyse, wat tussen 26 Maart 2020 en 31 Augustus 2021 verval het, tot 31 Maart 2022 geldig sal wees. Volgens die minister is die getal agterstallige lisensies altesaam 2,1 miljoen rybewyse wat teen 31 Maart hernu moet word. Daar is ʼn bykomende agterstand van 600 000 kaarte wat nog deur die regering gedruk moet word.

Die rybewysmasjien is sedert 22 Januarie weer operasioneel en druk 400 000 kaarte per maand om die agterstand te probeer oplos. Die departement sê dié agterstand sal teen die einde van April opgelos wees.

“Gegewe die enorme uitdaging om rybewyse te hernu, en in die konteks van die huidige agterstand, glo ons dat die grasieperiode tot ná 31 Maart uitgestel moet word. Die getal motoriste wat hul rybewyse moet hernu neem daagliks toe en die regering moet alles in sy vermoë doen om hulle by te staan,” voeg die AA by.

Die organisasie sê die minister se bewerings dat die twee nuwe sentra in Midrand en Centurion nie ten volle deur die publiek gebruik word nie, is moontlik bloot omdat dit vir meeste mense onprakties is om daarvan gebruik te maak.

“Rybewys-toetssentra is spesifiek só geleë om mense in spesifieke gebiede te akkommodeer. As die sentra hulle nie kan help nie, is hulle dalk nie in ʼn posisie om ander sentra te gebruik nie – dis moontlik te ver of te duur om na ʼn ander sentrum te reis. Alhoewel hierdie twee nuwe sentra die beste fasiliteite bied, sou dit dalk beter gewees het om eerder bestaande hulpbronne op te gradeer.”

Mbalula het Donderdag aangekondig die nuwe rybewyskaarte, met bykomende sekuriteit, sal van Oktober 2023 beskikbaar wees. Dié kaarte sal ook as amptelike identifikasie gebruik kan word. “As die bestaande probleme om kaarte uit te reik nie opgelos word nie, sal die nuwe kaart – maak nie saak hóé gevorderd dit is nie – niks oplos nie. Ons is in afwagting vir die nuwe aanlyn prosedures – dit sal na verwagting vanaf 17 Februarie beskikbaar wees,” voeg die AA by.

Die AA verwelkom ook Mbalula se aankondiging dat navorsing gedoen word om te bepaal of rybewyse vir ʼn langer periode as vyf jaar geldig moet wees. “Die AA maan die regering om die geldigheidsperiode na 10 jaar te verleng. Ons verwelkom die nuus dat dit tans bespreek en hersien word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Julle moet besef Fikile is ons man vir die (vise-)presidentspos… Al die pad… Nadat hy ons spoorweë weer op die spoor gekry het, E-tol weer aan die rol het en die lisensie-probleem a la sportman dwarsdeur doelhokkie geskop het. O ja, en die provinsiale verkiesing so mooi via die SABC ge-BEE or not to be het. As ons hom nie begin waardeer nie gaan hy skiet vir die pos as die wêreld se volgende VN-grootbaas om die wêreld se probleme te gaan regsien wat dringend slim aandag vra.

Androclus ·

Annie en wat het hy daar by die polisie gedoen se vir ons.

Swerwer ·

Nou wat van die aanlyn hernuwing wat sou plaasvind.
Ongelukkig het nie almal van ons tyd om dae in rye te gaan staan met die hoop om
gehelp te word nie, want as jy nie by die werk is nie, kry jy nie salaris nie.
Die eerste 100 word ingelaat en die ander moet hul name op ‘n lys skryf. Moenie dink jy gaan môre toegelaat word om in te gaan omdat jou naam gister neergeskryf is nie,
o nee. Die volgende dag word die broeders en susters toegelaat en jy moet maar weer jou naam neerskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.