Nóg vas oor skietvoorvalle by Kaapstad-nagklubs

Café Caprice in Kampsbaai, Kaapstad (Foto: Café Caprice, Facebook)

Nóg ʼn man is in hegtenis geneem in verband met ʼn skietvoorval by Café Caprice in Kampsbaai vroeër vanjaar.

Kapt. Lloyd Ramovha, provinsiale woordvoerder van die Valke in Wes-Kaap, het gesê die 36-jarige verdagte van Mitchells Plain is Donderdag in hegtenis geneem.

Hy moet binnekort in die Kaapstad-landdroshof verskyn saam met Jordan Fabe (25), wat reeds in aanhouding is in verband met die skietvoorval. Albei word aangekla van poging tot moord.

Fabe het Maandag vlugtig in die Kaapstadse landdroshof verskyn, waarna die saak tot 9 Oktober uitgestel is.

Maroela Media het vroeër berig twee slagoffers is in April geskiet en gewond nadat gewapende mans die restaurant betree en lukraak begin skiet het voor hulle van die toneel gevlug het. Die beseerdes is deur paramedici op die toneel behandel voor hulle na ʼn plaaslike hospitaal geneem is vir verdere behandeling. Hulle is later ontslaan.

“Die Valke se georganiseerdemisdaadeenheid het die saak oorgeneem nadat dit duidelik geword het dat die voorval verbind word met ʼn beweerde bakleiery in die nagklubbedryf in die Wes-Kaap,” het kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, met Fabe se inhegtenisneming gesê. Fabe is ná deeglike ondersoek op 29 September in hegtenis geneem.

Brig. Neil Oliver, provinsiale hoof van die Valke, het die span geloof vir die deurbraak. “Ons neem met kommer kennis van onderduimse aktiwiteite in die nagklubbedryf en hou alles baie fyn dop. Ons sal geen wetteloosheid in die land duld nie,” het hy gesê.

Intussen is ʼn 21-jarige man van Kraaifontein ook Donderdag deur die Valke in hegtenis geneem in verband met ʼn skietery buite Coco Nightclub in Kaapstad se middestad in Mei vanjaar.

Twee slagoffers, ʼn klant en ʼn platejoggie, is tydens die voorval geskiet en gewond. Ramovha het gesê die skietery word ook moontlik met die onrus in die nagklubbedryf verbind. Naeem Harris (21) is reeds in verband met die skietery in hegtenis geneem.

Die 21-jarige verdagte moet Maandag vir die eerste keer in die Kaapstad-landdroshof verskyn. Harris het verlede maand vir die eerste keer in die hof verskyn op twee aanklagte van poging tot moord. Die saak duur voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.