Nog veiligheidsmaatreëls vir getuies oorweeg ná moord

Babita Deokaran.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) sê hy is soos menige Suid-Afrikaner bekommerd oor die veiligheid van sy getuies, fluitjieblasers en ondersoekers en oorweeg dit nou om verdere maatreëls in te stel om dié persone se veiligheid te verseker.

Dít ten spyte daarvan dat die eenheid nie in dié stadium die moord op Babita Deokaran, ’n senior finansiële beampte van die Gautengse gesondheidsdepartement, met sy ondersoek na bedrog in die departement kan verbind nie.

Die SOE meen die onlangse inhegtenisneming van sewe verdagtes sal wel die polisie ’n stap nader aan die motief agter die moord bring.

“Die SOE sal die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toelaat om agter die kap van die byl te kom,” sê Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE.

Deokaran (53) is Maandag kort ná 08:00 buite haar huis in Mondeor in die suide van Johannesburg doodgeskiet nadat sy haar kind by die skool afgelaai het.

Deokaran was een van die meer as 320 getuies in die ondersoek na bedrog met onder meer persoonlike beskermende toerusting in die private en openbare sektor.

Die SOE moedig nou getuies aan om na vore te kom, asook sy ondersoekers daarvan in kennis te stel as hulle onveilig voel sodat die nodige stappe gedoen kan word om hulle te beskerm.

“Die moord op mev. Deokaran moenie Suid-Afrikaners en staatsamptenare daarvan weerhou om bewerings van korrupsie, wanpraktyk, hebsug en wanadministrasie in die sake van staatsdepartemente, munisipaliteite en staatsbeheerde entiteite aan te meld nie.

“Dit is juis deur die verslagdoening oor verkrygingsonreëlmatighede en korrupsie in die openbare sektor dat ons die staatsbeursie kan beskerm en sorg dat dit in die belang van die publiek dien,” sê Kganyago.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

So tragies dat mense sal moord pleeg om hulle eie basse te red…..nikswerd moordenaars

Jr ·

Aagh jinne mense jy hoef nie n brain surgeon te wees om te weet dit is n sluipmoord. Hulle kan nie eers hulle eie ” waar van daan koms” uit figure.

Charl ·

En wanneer die wat hulle moet beskerm en beveilig in die geheim omgekoop word om name te verskaf, wat dan ??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.