Nog verdagtes in hof oor sesjarige se moord

Bontle Mashiyane (Foto: SAPD Mpumalanga)

Samuel Mangebeletane Tsela (63) en Philasande Tsela het Dinsdag in die Kabokweni-landdroshof in Mpumalanga verskyn in verband met die moord op die sesjarige Bontle Mashiyane. Dit bring die getal beskuldigdes op vyf te staan.

Drie van die beskuldigdes het Maandag in die hof verskyn.

“Beskuldigde nommer vier (Mangebeletane) het gekies om homself te verdedig, terwyl Philasende ʼn regsverteenwoordiger gekies het,” sê Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). “Al vyf verdagtes sal op 24 Junie 2022 by die Masoyi- periodieke hof verskyn. Die ondersoek duur voort.”

Maroela Media het vroeër berig Bontle is op 21 Mei 2022 dood aangetref in Masoyi, naby Witrivier. Die gesin se buurvrou is een van die beskuldigdes.

Bontle het op 30 April saam met ander kinders by die huis by Mganduzweni in Masoyi gespeel toe sy vermis geraak het. ’n Soektog is van stapel gestuur en Bontle se liggaam is drie weke later gevind.

Bontle se ma, Permission Seipane (27), het vroeër gesê een van die verdagtes wat van Bontle se moord aangekla word, Ntombi Ngwenya (40), woon langs Bontle se pa se huis in Masoyi. Die familie ken haar goed en sy het selfs na Bontle help soek. “Sy het ons vir die gek gehou terwyl sy geweet het wat sy met my kind gedoen het. Sy het voorgegee sy gee om. Ek het nie gedink sy sal so iets aan my doen nie.”

Seipane het Bontle laas op 16 Desember gesien. Teen die tyd van haar verdwyning het Bontle by haar pa, Itumeleng Mashiyane (41), en sy familie gewoon. “Ons het baie oor die foon gepraat. Ek moes haar nie laat gaan het nie. Ek moes vir haar baklei het. Miskien sou sy dan nog hier gewees het.”

Ngwenya het Maandag saam met Collen Hlongwane (36) en Thapelo Ngomane (25) in die Kabokweni-landdroshof in verband met die moord op Bontle verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van ontvoering, mensehandel, verkragting en moord. Daar is sprake daarvan dat die verdagtes ook met ander kindermoorde verbind word. Die polisie het egter nog geen inligting in dié verband verskaf nie.

Hlongwane, Ngomane en Mgwenya het tydens hul verskyning aansoek om regsverteenwoordiging gedoen, maar nie om borgtog nie. Hulle bly vir die volgende maand in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan D ·

Groot uitgevrete volwasse mans en ʼn vrou teenoor ʼn 6 jarige kind! Siek verby!

JohanR ·

This country has become just pure evil! Daar word vir tronkstraf selfs lewenslank, net gelag! Vir party is dit soos ‘n verblyf in die Ritz Carlton.

Darts girl ·

Ek het geleer dat jy eerder moet stil bly as jy niks goeds het om te se nie, maar soms met berigte soos die een waar dit oor n onskuldige kind gaan steur ek my nie aan daai wat ek geleer is nie. Want om eerlik te wees moet jy regtig siek verby wees om so iets aan n kind te wil doen.

Sarel ·

Dit word ook genoem ” ongewensde Spesie ” en jy kan deur middel van Assosiasie beboet word ..maar nooit
‘noem jy dit ‘n mens nie

pieter ·

Jo , hierdie vuilgoed is siek verby ,
Verwyder hulle na robben eiland toe permanent.

TO ·

Siek, uiters siek, geen kind, mens is sy of haar lewe meer seker nie

SomeOne ·

baie mense skree: bring die doodstraf terug, wat van doen dit wat God in die Bybel sê: Mattheus 18:6
: “maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.