Nóg verdagtes soek ná transitoroof wat 2 polisielede eis

Ao. Delene Grobler-Koonin (44).

Die Valke is op soek na nog drie verdagtes wat verbind word aan die mislukte transitorooftog wat verlede maand in Mahikeng in Noordwes plaasgevind het. Drie verdagtes is die dag van die gepoogde rooftog deur die polisie doodgeskiet terwyl ses ander intussen in hegtenis geneem is.

Ao. Delene Grobler-Koonin (44) en speurdersers. Wynand Herbst (42) is die betrokke dag doodgeskiet toe hulle die groep verdagtes agternagesit het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê die Valke is op die spoor van Pascal Wiseman Langu (48), Tebo Phuthegolo, ook bekend as Boitumelo Mashishi, en Jabulani Andrew Sibisi, bekend as Mkhulu (53).

Dít nadat ’n groep gewapende mans op 5 Maart op ’n Fidelity-transitovoertuig in Mahikengweg naby die Itsoseng-nedersetting toegeslaan het.

Maroela Media het vroeër berig lede van die polisie se spesiale taakmag het gereageer nadat ʼn gewapende bende op ʼn geldwa losgebrand en die bestuurder gedwing het om stil te hou. Die rowers was net besig om die geldwa met plofstof oop te blaas toe die taakmag toegeslaan het.

Sers. Wynand Herbst (42).

“Die verdagtes het in verskillende rigtings laat spat en in hul poging om te ontsnap het twee van die betrokke voertuie voor lede van die Valke se taktiese operasionele bestuurseenheid (Toms) tot stilstand gekom,” het Mulaudzi vroeër gesê.

Dit is tydens die daaropvolgende skietery wat Grobler-Kroonin geskiet is.

Die verdagtes het gevlug. Een van hulle is later in ʼn Johannesburgse hospitaal opgespoor en in hegtenis geneem.

Die soektog na verdagtes het die polisie ook na Coligny gelei, waar van die verdagtes by ʼn vulstasie voorgekeer is. Die rowers het met AK47-aanvalsgewere op die Toms-lede losgebrand en Herbst ook doodgeskiet.

Drie verdagtes is ook in die skietery doodgeskiet, het Mulaudzi gesê. Die verdagtes is nou geïdentifiseer as Tefo Motsewakhumo (27), Themba Hlatshwayo (38) en Tshepho Mokoena (37).

Pascal Wiseman Langu (Foto: Verskaf)

Mulaudzi het Woensdag gesê nog ses verdagtes is sedertdien in hegtenis geneem in verband met die saak. Jabulani Yika (38), Phahlane Ngubeni (47), Musa Mkhabele (34), Neo Marule (38), Simpiwe Msibi (24) en Tafere Dimmissie (38) staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie en poging tot rooftog.

Dié verdagtes het op 24 April in die hof verskyn. Die saak is tot 15 Mei uitgestel.

Die Valke doen nou ’n beroep op die publiek om inligting oor waar die drie gesoekte verdagtes hulself mag bevind, by lt.kol. Gert Serfontein by 071 481 3394 of ao. Trevor Shaw by 082 697 5873 aan te meld.

“Lede van die gemeenskap word versoek om nie die verdagtes te probeer aankeer of te konfronteer nie aangesien hulle gevaarlik kan wees,” het Mulaudzi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.