Nog verdagtes vas in Thabo Bester-ondersoek

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

ʼn Voormalige werknemer (39) van die G4S- private veiligheidsmaatskappy en ʼn 65-jarige man is die afgelope naweek in verband met die berugte Thabo Bester-ontsnappingsaak in hegtenis geneem.

Bester, ʼn veroordeelde moordenaar en verkragter, het in Mei verlede jaar sy eie dood vervals en uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein ontsnap. Dié gevangenis word al jare lank deur G4S bestuur.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê die voormalige G4S-werknemer is Saterdag by sy huis in Bloemfontein vasgetrek, en die 65-jarige verdagte Vrydag by sy huis in Port Edward in KwaZulu-Natal. Albei verdagtes word daarvan aangekla dat hulle ʼn veroordeelde misdadiger gehelp het om te ontsnap en weg te kruip.

Maroela Media het vroeër berig dat Bester, sy vriendin Nandipha Magudumana en ʼn ongeïdentifiseerde Mosambiekse burger Vrydagaand in Tanzanië vasgetrek is. Volgens die polisie was hulle glo van plan om Tanzanië te verlaat en die grens na Kenia oor te steek. Interpol en verskeie ander rolspelers was by die inhegtenisneming betrokke.

ʼn Afvaardiging wat deur die polisie se adjunk- nasionale kommissaris, lt.genl. Tebello Mosikili, gelei word, het intussen in Arusha in Tanzanië aangekom.

“Die span is tans met hul Tanzaniese eweknieë in samesprekings om die wetlike proses te finaliseer wat nodig is om Thabo Bester en sy medepligtiges na Suid-Afrika uit te lewer,” het Mathe Maandag gesê.

Genl. Fanie Masemola, Suid-Afrika se nasionale polisiekommissaris, het die jongste verwikkelinge verwelkom en sê daar is ʼn moontlikheid dat nog mense in hegtenis geneem kan word.

Bester se ontsnapping en die vervalsing van sy dood het byna ʼn jaar lank ongesiens verbygegaan. Dit het eers verlede maand aan die lig gekom dat hy nooit in ʼn brand by die tronk gesterf het nie, maar dat die liggaam van ʼn onbekende persoon glo in die gevangenis ingesmokkel en in Bester se sel aan die brand gesteek is. ʼn Saak van moord word in dié verband ondersoek.

Die Gautengse polisie het vroeër die week op die herehuis in ʼn luukse Johannesburgse woonbuurt toegeslaan waar Bester vermoedelik weke gelede nog geskuil het. Bester het glo saam met Magudumana, ʼn mediese dokter, by die vierslaapkamerhuis tuisgegaan voordat hulle weer op die vlug geslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

As hy sy eie dood kon vervals dan het hy ‘n kriminele meesterbrein wat vir my lyk of dit wel die geval is maar ek glo sy vriendin,die dokter het ‘n groot rol gespeel.Die lyk wat in sy plek verkool het se oorsprong moet vasgestel word maar ek glo daar kan nog arrestasies volg.Wat is die kanse dat dit ‘n lyk is wat in ‘n lykshuis onopgelos gelê het.

TruthDealer ·

Wat ek eenvoudig nie kan verstaan nie, is hoe n pragtige en slim vrou soos Dr.Nandipha betrokke kon raak, in n verhouding kon gaan, met n moordenaar en verkragter?? Daar is letterlik derduisende mans wat sy kon kry. Sakemanne, dokters, prokureurs, ens. Wat het in haar kop aangegaan? Waarom iemand soos hy? Dit gaan my verstand te bowe.

Amelia ·

n huis van 12miljoen glo nie die dokter kon dit betaal het nie of kry dokters so baie is hier nie ook dalk n bietjie meer aan gang nie Hierdie klink maar vir my verdag

SjN ·

Daar moet nog meer korrupte persone betrokke wees. verkry van die lyk, vervoer en plant van die ligaam in die sel, sekuriteits mense het ook n vinger in die pie, Bester moes net in die land gebly het aangesien die Anc polisie hopeloos is.

Dandeleen ·

Die liewe Dokter gaan nou ook vir lank sit, wonder of dit alles die moeite werd was op die einde van die dag?

TruthDealer ·

En ek sien nou in n ander SA nuusberig dat sy getroud was met n pediater en kinders het, jong kinders. Ek dink dit was op The Citizen waar ek dit gesien het. Jong kindertjies. Sy het glo selfs haar dogtertjie se verjaarsdag gemis om vir Bester te help. Ondenkbaar, hierdie breek my brein.

Casper ·

Daar sal eers DNS toetse gedoen moet word om te verseker dat dit Bester is wat in Tanzanië opgespoor is.Ek sien iewers ‘n slang in die gras en ek ruik ‘n vrot rot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.