Nóg verdagtes vas ná boer een doodskiet tydens aanval

plaashek-pexels

Foto: Pexels

Nagenoeg drie verdagtes is Vrydagaand net buite Polokwane in Limpopo in hegtenis geneem in verband met Donderdagaand se plaasaanval in die omgewing van die Leeukuilplotte in dié dorp.

Maroela Media het vroeër berig die groep verdagtes het Donderdag omstreeks 22:30 op die plaas toegeslaan. Die man het wakker geskrik van sy honde wat blaf waarna hy gewapende verdagtes buite die huis gesien het. Hy het waarskuwingskote afgevuur waarna die verdagtes weggehardloop het. Die verdagtes het egter later teruggekeer en blindweg op die huis losgebrand waarna die boer weer begin skiet het. Die boer het een verdagte in die proses doodgeskiet.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het op die verdagtes toegeslaan ná ʼn wenk vanuit die gemeenskap. Hy sê die verdagtes is by die Makgofe-nedersetting buite Polokwane, waar hulle in ʼn huurhuis gewoon het, in hegtenis geneem.

“Toe die verdagtes die polisie opmerk, het hulle begin losbrand. Die polisie het teruggeskiet en een verdagte gewond. Al drie is toe in hegtenis geneem,” sê Ngoepe.

Hy sê die gewonde verdagte is tans onder polisiebewaking in ʼn hospitaal en die ander twee verdagtes is in aanhouding. Volgens hom kan die verdagtes verbind word met nagenoeg 20 verskillende voorvalle in die Limpopo-provinsie.

Die polisie het beslag gelê op onder meer drie vuurwapens, 24 selfone, een sportfiets, ʼn Mercedes-Benz-sleutel, drie televisiestelle, ʼn skootrekenaar, luidsprekers, vier DVD-spelers, twee digitale kameras, ʼn koelsak vol werkswinkelmateriaal, ses paar tekkies, een yskas en ʼn identiteitsdokument.

Ngoepe sê die verdagtes, almal tussen 22 en 25 jaar oud, sal Maandag onderskeidelik voor die Seshego- en Polokwane-landdroshowe verskyn op aanklagte van onder meer huisroof, poging tot moord, die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie en die besit van gesteelde goedere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Japie ·

Nee Dirk, hy het binne die wet opgetree. Hoekom jouself opwerk oor iets wat nie gebeur nie? Knap gedaan aan die polisie en die gemeenskap wat die wenk gegee het sou dalk meer van pas wees.

CHRISTA ·

Ek hoop hulle word nie borg toegestaan nie, maar AGTER TRALIES gehou totdat die saak volledig afgehandel is, veral omdat hulle met nagenoeg 20 ander misdade verbind kan word!!

Frikkie (Nie pienk) ·

Wonder ek of die “gemeenskap” nou die howe gaan vol pak en buite klippe gooi. Waarom verskyn hul in verskillende howe?

Hans ·

Jy sien in die nag grwapendes op jou eiendom rondsluip en vuur waarskuwingskote af – genugtig dis is n groot fout!

Jay ·

Ja want skiet hy hulle net morsdood gaan hy tronk toe vir moord ons het die geval al gesien. Die feit dat hulle terug gekom het en net begin skiet het was baie goed vir die boer want net daar het hy die reg gehad om hulle dood te skiet. Mense vergeet al is ‘n gewapende mens op jou eiendom kan jy hulle nie net dood skiet nie jy kan jouself net verdedig as jou lewe in gevaar is. En al is jou lewe in gevaar weet ons wat gebeur en wie se kant word gekies in die land.

Johannes Meintjes ·

Die aanvaller tendense raak al meer ge-organiseerd, gedetermineerd en brutaal. Buurtwagte landswyd, die GPF inisiatief, die SAPD en ander beveiligingskundiges het na mening steeds nie ‘n nasionale burgerlike beveiligings en anti-misdaad/ -plaasaanval strategie nie, wat nog van effektiewe uitvoering daarvan. Burgers op die grond bly ongenadiglik oorgelewer en uitgelewer aan misdaad en korrupde optredes teen hulle en hulle gesinne.

Tiger ·

Johannes ,in ons omgewing stel min boere belang om deel te word van hulle sektor se GPF.Lyk my hulle dink hulle leef nog in die lekker ou dae.Dis waarom die GPF inisiatief sukkel om iets reg te kry .
Op een vergadering 30+ boere en sommiges se vrouens ook.3 maande later se vergadering trek net 5 mense!Nou hoe nou?

John ·

Al sluip daai ou op jou erf gewapen rond, skiet hom in elk geval. Wat soek hy met n wapen in die eerste plek? Bly die boer ok.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.