Nog verdagtes vas ná gewelddadige Oos-Kaap-betogings

Foto: Verskaf.

Nog drie persone is in hegtenis geneem ná verdere gewelddadige betogings in die Kirkwood- en Addo-omgewing in die Oos-Kaap.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die drie, tussen die ouderdomme van 22 en 30 jaar oud, is Woensdagoggend in hegtenis geneem op aanklag van skade aan noodsaaklike infrastruktuur.

Hul sal binnekort in die hof verskyn.

Volgens hom het geen individue nog vorendag gekom en individuele sake aanhangig gemaak nie.

Intussen het lt.genl. Liziwe Ntshinga, die provinsiale polisiekommissaris, gewaarsku dat die polisie streng met die “opportunistiese kriminele elemente” sal afreken.

Nkohli het gesê Dinsdag omstreeks 18:00 het ʼn groep van sowat 200 werkers die R336 na die Moses Mabhida-omgewing met klippe en brandende buitebande versper.

“Die polisie het berigte ontvang van aanvalle op boorde in die omgewing. Dit kan bevestig word dat een stoorkamer aan die brand gesteek is sowel as drie trekkers,” het Nkohli gesê.

Hy het Woensdagoggend aan Maroela Media bevestig die situasie is steeds “gespanne” en dat verskeie polisie-eenhede in die gebied ontplooi is.

“Daar is ʼn sterk polisieteenwoordigheid en hulle monitor die situasie.”

Maroela Media het vroeër berig 11 mense is vroeër vasgetrek in verband met die voortgesette betogings in die Sondagsriviervallei-gebied tussen Kirkwood en Addo, noord van Port Elizabeth.

Sewe verdagtes is Vrydag vasgetrek en vier Maandagoggend.

Maroela Media het ook vroeër berig sommige sitrusplaaswerkers in die gebied betoog al sporadies sedert voorverlede week, vermoedelik oor arbeidsverwante kwessies.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het gesê talle grondpaaie wat na informele nedersettings tussen Addo en Kirkwood lei, word kort-kort met voorwerpe wat aan die brand gesteek word, asook klippe en stompe versper.

“Die betogings vind nog sporadies plaas aangesien die arbeidskwessies nog nie opgelos is nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

snoefie ·

asseblief! so as niemand kom aanklaf lê nie,kan ek ook maar gaan en my buurman se nuwe 4×4 dubbelkajuit aan die brand gaan steek ten aanskoue van almal?
hoekom is die drie vas? het hulle nog nie salaris ontvang nie en ly honger? want hulle gaan nie tronk toe of gaan betaal vor wat hulle vernietig het nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.