Nog vier vas ná moord op tienerseun

Jordan Moore (Foto: ANA)

Nog vier verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op Jordan Moore (16).

Die vier verdagtes, tussen 20 en 36 jaar oud, het Dinsdag vlugtig in die Atlantis-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig die verdagtes is Sondag in hegtenis geneem. Gemeenskapslede het intussen by die hof bymekaargekom en onder meer geëis dat die verdagtes nie op borgtog vrygelaat word nie en dat die doodstraf teruggebring moet word.

Die saak teen die vier verdagtes is vanoggend tot 24 November uitgestel. Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat die beskuldigdes dan om borgtog sal aansoek doen.

Ses verdagtes is nou reeds in hegtenis geneem in verband met die moord op Moore. Twee verdagtes, onderskeidelik 18 en 24 jaar oud, het reeds verlede week in die hof verskyn op aanklag van moord.

Hulle het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie en sal weer op 22 Januarie in die hof verskyn.

Daar word beweer dat Moore voorverlede week in Atlantis ontvoer is. Hy is verskeie kere met ’n mes gesteek en daarna glo deur die mans wat hom ontvoer het se honde verskeur. Sy liggaam is later die aand gevind.

Moore en twee van sy vriende is deur ’n groep mans genader wat hulle glo wou dwing om drank by ’n plaaslike sjebien vir hulle te gaan koop. Twee van die tieners kon daarin slaag om te vlug en hulp te gaan soek, maar Moore kon nie wegkom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pierre ·

Sterkte aan die familie en sterkte aan die beskuldiges, gemeenskappe is klaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.