Nóg vier vas ná Vrystaat-egpaar se skietdood

Gabriel en Marian is twee jaar gelede getroud. Foto: Verskaf

Nog vier verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die wrede moorde op Gabriel Daniel Bruwer (78) en sy vrou, Marian (67), wat verlede week op teregstellingswyse op hul plaas buite Vanstadensrus in die Vrystaat doodgeskiet is.

Die vier verdagtes is Maandagmiddag in hegtenis geneem, maar die nuus kon nie onmiddellik bekendgemaak word nie weens die sensitiwiteit van die ondersoek.

Sers. Mosili Ntsika, woordvoerder van die polisie, het egter Dinsdagmiddag gesê sy is nou in ʼn posisie om die inhegtenisnemings te bevestig. Volgens Ntsika het konst. Mosala Mositoane van die Vanstadensrus-speurdiens en sy span onverpoosd gewerk om die verdagtes op te spoor.

Drie mans, tussen 26 en 31 jaar oud, en ʼn 21-jarige vrou is in die Kanana-nedersetting buite Wepener in hegtenis geneem. “Die vier verdagtes word met die voorval verbind nadat die polisie op twee vuurwapens, ammunisie, selfone, juweliersware, ʼn skootrekenaar en ander items [wat tydens die aanval gesteel is] beslag gelê het,” het Ntsika gesê.

Die verdagtes sal binnekort in die Wepener-landdroshof verskyn.

Gabriel Daniel Bruwer en sy vrou, Marian. Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig die eerste twee verdagtes is Saterdag onderskeidelik in die Kanana-nedersetting en Gaba Square in Vanstadensrus in hegtenis geneem.

Die Bruwer-egpaar se liggame is verlede Dinsdag in hul plaashuis aangetref. Gerhardus Jacobus Bruwer (48), Gabriel se enigste kind en ʼn boer van Zastron, het vroeër aan Maroela Media gesê sy pa en stiefma was met ʼn elektriese koord om hul lywe en uiesakkies aan hul hande aan die stoele vasgebind voordat komberse oor hulle gegooi en albei agter hul ore geskiet is. ʼn Kussing is as knaldemper gebruik alvorens sowel Gabriel as Marian geskiet is.

Die aanvallers het met die egpaar se voertuig, ʼn silwer Chevrolet Spark, op die vlug geslaan. Hulle het vuurwapens, ʼn onbekende bedrag geld wat in die kluis was en die slagoffers se selfone gesteel. Die voertuig is later die dag by die sportterrein in Wepener, naby die grens van Lesotho, verlate gevind.

Lt.genl. Moeketsi Sempe, provinsiale kommissaris van die Vrystaatse polisie, het die ondersoekspan geloof vir hul harde werk en toewyding. “As die polisie hou ons by ons belofte soos uiteengesit in die landelike veiligheidstrategie dat ons te alle tye en vinnig en slim sal optree om die oortreders van plaasmoorde aan te keer. Ek wil ons span gelukwens wat onverpoosd gewerk het om hierdie taak te verrig,” het Sempe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sieg ·

Ai jammer om dit te hoor, inige simpatie vir die familie mag God julle vertroosting gee.

chris ·

Dit is ongelooflik hierdie span het wonders verrig. Wys jou net as jy ge “commit” is in jou werk wat kan bereik word. Weereens daar is goeie en bekwame polisie mense in die diens. Baie geluk aan konst. Mosala Mositane en sy span wees verseker die mense sien dit raak.

Lee ·

Dis verskriklik wat hulle aan die arme mense gedoen het. Rus in Vrede Mnr & Mev Bruwer. Baie sterkte aan die familie.
Mag hierdie lafaards die ergste moontlike straf kry. Hulle is regtig barbaars en wreed. Crime in SA ruk heeltemal hand uit en ons useless regering lag dit af.

HPV ·

Meer mense soos Mosala Mositoane en sy span en geen Malema, dink net hoe kan die land dan daar uitsien. Speurders julle is ysters!

Hanna Hoekom ·

Hierdie moordenaars daag in spanne op om twee weerlose oumensies te kom martel en vermoor. Julle klomp lafaards! Maar julle dag sal kom… Elke knie sal buig.

HPV ·

Hanna wat kwalifiseer ‘n mens om ‘n “ou mensie” genoem te word. My ouers en voorouers was fomidabele mense en niemand sou hulle klasifiseer as “ou mensies” nie. Ek het Mnr Bruwer persoonlik geken en sou hom ook nie klasifiseer as ‘n “ou mensie” nie.
Persoonlik dink ek die term “ou mensie” is neerhalend om die minste te sê.

kas ·

Ek dink Hanna Hoekom verwys na die ouderdom van die mensies en glo nie sy bedoel dit neerhalend nie.Dit is hartseer wat met die mense gebeur het maar ek is net verheug dat daar ‘n deurbraak in die saak is.Ek glo dit sal bietjie troos bied aan die familie en vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.