Nog vier vas oor omstrede behuisingsprojek

Die Talana- tydelike behuisingsprojek het skerp kritiek ontlok.

Vier lede van die bodevalueringskomitee van die behuisingsontwikkelingsagentskap is in hegtenis geneem vir beweerde bedrog van meer as R2,4 miljoen rakende die Talana- tydelike behuisingsprojek.

Die vier is Vrydag in verskillende dele van Johannesburg deur lede van die Valke in hegtenis geneem, het kapt. Matimba Maluleke, Valke-woordvoerder, gesê.

Die verdagtes het na bewering ingestem dat die maatskappy Aventino Group CC behuisingseenhede sou oprig sonder om die geldigheid van die dokumente wat ingedien is deeglik na te gaan. Daar word verder beweer dat die tydelike wooneenhede nie aan die ontwerp en spesifikasies voldoen nie.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Tzaneen-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte van bedrog.

Raymond Maoto (35), ʼn projekbestuurder by die behuisingsontwikkelingsagentskap, en Constance Mohlala (44), ʼn direkteur van Aventino, is Donderdag in Polokwane in hegtenis geneem en het reeds in die Tzaneen-landdroshof verskyn. Hulle saak is tot Dinsdag uitgestel wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Dié tydelike behuisingsprojek het skerp kritiek uit talle oorde ontlok nadat Stan Mathabatha, premier van Limpopo, einde Julie die 40 sinkhuise, wat glo meer as R60 000 elk gekos het, in Talana by Tzaneen oorhandig het.

Talle ondersoeke na die behuisingsprojek is hierna van stapel gestuur met die DA wat onder meer ʼn klag by die Openbare Beskermer (OB) ingedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.