Nóg voorvalle van bek-en-klou aangemeld

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Nóg drie voorvalle van bek-en-klouseer is aangemeld nadat drie uitbrekings in Desember en nóg een vroeër in Januarie aangemeld is.

Daar was dus altesaam 15 gevalle sedert die hoogs aansteeklike siekte einde verlede jaar weer kop uitgesteek het, het Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, bosbou en visserye, Dinsdag gesê.

Meer as 130 plekke wat verbind kan word met spesifieke veilings en eiendomme is geïdentifiseer en opvolgondersoeke is reeds by 95 van dié punte gedoen. By 44 eiendomme is voorkomende kwarantynmaatreëls opgeskort nadat bek-en-klouseer nié daar gevind is nie.

“Alle eiendomme waar bevestigde uitbrekings van die siekte is, is onder kwarantyn geplaas en gesplete hoefdiere mag nie daarvandaan verskuif word nie,” het Ngcobo gesê.

Maatreëls is ook ingestel sodat diere op plase waar bek-en-klouseer-kwarantynmaatreëls geld vroeër by spesifieke abattoirs geslag kan word. Daar is voorwaardes aan verbonde om die verspreiding van die siekte te voorkom.

Bek-en-klouseer het geen uitwerking op mense nie en die vleis en melk afkomstig van dié diere is steeds veilig vir menslike gebruik.

Die landwye verbod op lewendehawe-veilings wat op 4 Desember afgekondig is, geld intussen steeds.

Ngcobo het Dinsdag gewaarsku dat inenting van vee teen bek-en-klouseer net deur die staatsveearts gedoen mag word in gebiede wat spesifiek deur die direkteur van dieregesondheid vasgestel is. Dit is ʼn gratis diens. Die entstof word streng beheer en Ngcobo het ʼn beroep op mense gedoen om die staatsveearts dadelik in kennis te stel as iemand beweer dat hy die entstof het, of verkoop.

“Die kennisgewing verbied nie die beweging van vee van een plaas na ʼn ander nie en ook nie private veilings op individuele plase nie,” het Ngcobo gesê.

Die departement het boere wel gevra om die verskuiwing van vee te beperk tot die omvang van die uitbreking ten volle bepaal is. As dit wél nodig is om vee te verskuif, moet kopers seker maak die diere is gesertifiseer as vry van bek-en-klouseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hans ·

Dit is nie goed nie, party neem nie die siekte ernstig op nie en dit kan die hele streek lamlê

Daan Erasmus ·

Knopvelsiekte het in Botswana uitgebreek. Dit sal seker op dieselfde manier as bek en klouseer deurkom.

PJC ·

Solank as wat mense en diere so vrylik oor ons grense beweeg uit buurlande sal die probleem nie opgelos word nie.

Walesa ·

Na’ prohibition in Amerika het die drank industrie eienaarskap verwissel . Of wil iemand maar n geldjie maak uit ingevoerde beesvleis . Die hoender was n goeie voorbeeld .

jennefer ·

China het groot planne in Limpopo, raak net gou van die boere ontslae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.