Nóg vrae oor kommentaarproses vir gesondheidsregulasies

Die departement van gesondheid het glo sowat 150 000 kommentare ontvang, maar AfriForum en DearSA sê meer as 310 000 kommentare is net deur hul platforms aan die departement gestuur. (Argieffoto: Vincent Thian/AP)

Die burgerregtegroep AfriForum en die openbaredeelnameplatform DearSA is bekommerd oor die regering se hantering van die openbaredeelnameproses rakende kommentaar op die nuwe voorgestelde wysigings aan gesondheidsregulasies.

Die ramptoestand is vroeër vandeesmaand opgehef met die regering wat beoog om die Covid-19-pandemie voortaan kragtens die Wet op Nasionale Gesondheid te bestuur. Dit plaas egter ook die mag daaroor in die hande van die minister van gesondheid.

Die departement het glo net 150 000 kommentare oor die voorgestelde regulasies ontvang.

AfriForum en DearSA betwis egter hierdie syfer en sê die twee organisasies het saam meer as 310 000 kommentare deur hul amptelike openbaredeelnameplatforms ontvang. Dit is direk aan die departement gestuur.

“Die voorgestelde regulasies is uiters deurdringend en sal die departement van gesondheid toelaat om mense teen hul wil in kwarantynkampe te dwing en hulle ook te dwing om onder meer sekere mediese behandelings te ontvang,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

“Die feit dat dit lyk of die departement nou besig is om die proses van openbare deelname in die wiele te ry, wek groot kommer.”

Ook Gideon Joubert, uitvoerende hoof van DearSA, sê in hierdie stadium lyk dit nie of die voorgestelde wysigings openbare steun geniet nie, maar “eerder openbare teenkanting”.

“Ons verwerk steeds die finale resultate van ongeveer 283 000 kommentare, maar voorlopige aanduidings toon dat meer as 95% van kommentaar gelewer die voorgestelde gesondheidswet-regulasies heeltemal verwerp. Van die res ondersteun 3% dit nie ten volle nie, terwyl slegs ongeveer 2% dit ondersteun,” sê hy.

DearSA is ook bekommerd oor die manier waarop die regering die proses benader en bestuur het.

Albei organisasies het reeds aangedui dat hulle die voorgestelde regulasies ook in die hof sal betwis.

Maroela Media het vroeër al berig dat Freedom of Religion SA, sowel as die DA, aanvoer dat die departement tientalle e-posse met kommentaar oor die regulasies uitgewis het.

Die organisasies sê hulle het talle bewyse dat e-posse uitgewis is – sonder dat dit gelees is – in die vorm van outomatiese terugsendings via e-pos aan diegene wat kommentaar ingedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Papsak ·

Ja ek sal glo van die briewe is weg gemaak want hulle wil hulle sin he

Marius ·

Dit raak ‘n groot bekommernis wanneer enige regering sy landsburgers ignoreer en ondeurdagte of onderdrukkende wetgewing deurforseer te koste van mense se geluk en vryheid.

Kobus ·

Wie gaan die kommentaar lees? Gaan hulle enigsins ag slaan op negatiewe kommentaar? Ons word weereens geterg

Owlie ·

Dit is kommerwekkend dat diegene wst wil regeer so onvolwasse en korup kan optree om enige kommentaar/kommunikasie/skrywe te verwoes of laat verdwyn of delete

Di ·

Die korrupte regering sal SORG dat dit wat hulle beplan, sal realiseer! Groter korrupte spul sal jy nerens anders kry nie. Niks in die land is vry en regverdig nie – korrupsie orals! AfriForum moet hulle hof toe vat, die bewyse is mos daar

Papsak ·

Kry die regte regering in en mense wat weet wat hulle doen en die land sal reg kom

Pietertjie ·

Óf hulle wil nie tel nie, óf hulle kan nie tel nie, óf die deelname-proses is oëverblindery. Ek dink dis al drie…

Deon ·

Ek stel voor dat organisasies soos Dear Sa en afriforum al die kommentaar volgende keer op n memory stickie sit en dan daai ou wat verantwoordelik is laat teken vir erkenning van ontvangs laat hom ook n briefie teken dat hy kan weet hoeveel daar is en gee hom n adres en telefoon nommer vir ingeval iemand dit verloor. Wie lees die kommentare alles deur, is daar verteenwoordigers vir die burgers wat nie anc stem nie ook daar? Die kastige “verlore” e-posse is n lekker verskoning en nie die eerste keer wat die tipe verskoning gebruik word nie. Tyd dat die lot uit daar waar hulle so verwoes

Miskruier ·

Is dit net ek wat ongemaklik voel om soveel mag in die hande van kopdoek en haar regering te plaas?

Lourens CFG ·

Net die stemvee 30%ters is nie ongemaklik daarmee nie.
Ons is baie ongemaklik én bekommerd daaroor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.