
Die departement van gesondheid het glo sowat 150 000 kommentare ontvang, maar AfriForum en DearSA sê meer as 310 000 kommentare is net deur hul platforms aan die departement gestuur. (Argieffoto: Vincent Thian/AP)
Die burgerregtegroep AfriForum en die openbaredeelnameplatform DearSA is bekommerd oor die regering se hantering van die openbaredeelnameproses rakende kommentaar op die nuwe voorgestelde wysigings aan gesondheidsregulasies.
Die ramptoestand is vroeër vandeesmaand opgehef met die regering wat beoog om die Covid-19-pandemie voortaan kragtens die Wet op Nasionale Gesondheid te bestuur. Dit plaas egter ook die mag daaroor in die hande van die minister van gesondheid.
Die departement het glo net 150 000 kommentare oor die voorgestelde regulasies ontvang.
AfriForum en DearSA betwis egter hierdie syfer en sê die twee organisasies het saam meer as 310 000 kommentare deur hul amptelike openbaredeelnameplatforms ontvang. Dit is direk aan die departement gestuur.
“Die voorgestelde regulasies is uiters deurdringend en sal die departement van gesondheid toelaat om mense teen hul wil in kwarantynkampe te dwing en hulle ook te dwing om onder meer sekere mediese behandelings te ontvang,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.
“Die feit dat dit lyk of die departement nou besig is om die proses van openbare deelname in die wiele te ry, wek groot kommer.”
Ook Gideon Joubert, uitvoerende hoof van DearSA, sê in hierdie stadium lyk dit nie of die voorgestelde wysigings openbare steun geniet nie, maar “eerder openbare teenkanting”.
“Ons verwerk steeds die finale resultate van ongeveer 283 000 kommentare, maar voorlopige aanduidings toon dat meer as 95% van kommentaar gelewer die voorgestelde gesondheidswet-regulasies heeltemal verwerp. Van die res ondersteun 3% dit nie ten volle nie, terwyl slegs ongeveer 2% dit ondersteun,” sê hy.
DearSA is ook bekommerd oor die manier waarop die regering die proses benader en bestuur het.
Albei organisasies het reeds aangedui dat hulle die voorgestelde regulasies ook in die hof sal betwis.
Maroela Media het vroeër al berig dat Freedom of Religion SA, sowel as die DA, aanvoer dat die departement tientalle e-posse met kommentaar oor die regulasies uitgewis het.
Die organisasies sê hulle het talle bewyse dat e-posse uitgewis is – sonder dat dit gelees is – in die vorm van outomatiese terugsendings via e-pos aan diegene wat kommentaar ingedien het.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
16 Kommentare
Hulle wil nie reg tel nie
Ja ek sal glo van die briewe is weg gemaak want hulle wil hulle sin he
Dit raak ‘n groot bekommernis wanneer enige regering sy landsburgers ignoreer en ondeurdagte of onderdrukkende wetgewing deurforseer te koste van mense se geluk en vryheid.
Wie gaan die kommentaar lees? Gaan hulle enigsins ag slaan op negatiewe kommentaar? Ons word weereens geterg
Dit is kommerwekkend dat diegene wst wil regeer so onvolwasse en korup kan optree om enige kommentaar/kommunikasie/skrywe te verwoes of laat verdwyn of delete