Nog vyf jaar vir bek-en-klouseerfasiliteit

(Foto: Yolandi Kruger)

Die Landbounavorsingsraad (LNR) se bek-en-klouseer-inentingsfasiliteit sal eers in 2025 gereed wees, het Thoko Didiza, die minister van landbou, bevestig.

Didiza het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die Demokratiese Alliansie gesê die LNR het in 2010 ʼn bedrag van R188 miljoen ontvang om ʼn toegewyde bek-en-klouseerfasiliteit op te rig wat entstof sal ontwikkel.

“Dié bedrag het egter klaarblyklik nie tot enigiets gelei nie,” het Noko Masipa, DA-LP, in ʼn verklaring gesê. “ʼn Projek wat tussen drie tot vyf jaar moes klaar wees, sal nou 15 jaar duur om afgehandel te word. Die minister se onthulling kom in ʼn tyd waar Suid-Afrika se landbougemeenskap sukkel om die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo te beheer.” 

Masipa het gesê alhoewel inenting nie die enigste oplossing is vir bek-en-klouseer nie, is die realiteit dat die uitbreking en die ekonomiese gevolge daarvan op die landboubedryf dramaties beperk kon word indien ʼn inentingsfasiliteit beskikbaar was. 

“Die vyf jaar lange vertraging om die fasiliteit op te rig plaas ook bykomende druk op die fiskus. Die DA doen ʼn beroep op die LNR om die begroting van R480 miljoen, wat hy in April 2019 ontvang het om die fasiliteit te voltooi, verantwoordelik aan te wend. Die DA sal verdere vrae in die parlement aan die minister rig om ʼn gedetailleerde verslag te verskaf oor die berekenings wat met die vertraging verband hou. Alhoewel die inentingsfasiliteit belangrik is, kan die belastingbetaler nie bekostig om meer te betaal as wat hulle reeds doen nie.”

Masipa het gesê die DA sal die LNR se vordering monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.