Nóg vyf ‘leeustropers’ aangekeer

Argieffoto: popista.com

Argieffoto: popista.com

Vyf mense is Donderdagaand in hegtenis geneem te midde van ʼn vlaag voorvalle in Limpopo waar leeus vir hul liggaamsdele doodgemaak is.

Brig. Motlafela Mojapela, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die inhegtenisnemings volg ná ʼn intelligensiegedrewe operasie in die Phalaborwa-omgewing.

“Die polisie het inligting ontvang van mans wat ʼn leeukop wil verkoop. ʼn Lokval is gestel en binne enkele ure is vyf mans tussen die ouderdom van 28 en 70 in hegtenis geneem,” het Mojapela gesê.

Volgens Mojapela is een van die verdagtes ʼn Mosambieker en die res van Suid-Afrika.

ʼn Leeu se kop is in hul besit gevind en die polisie het daarop beslag gelê. Die mans moet binnekort in die hof verskyn op aanklag van die jag van spesiale beskermde wild. “Die polisie stel ondersoek in om vas te stel of die mans met ander onwettige stropery van leeus in die provinsie verbind kan word,” het Mojapela gesê.

Die inhegtenisneming volg op dieselfde dag as wat Tebogo Bale (31) in die hof verskyn het nadat die geskende karkas van ʼn witleeuwyfie Dinsdag op ʼn wildsplaas in die Alldays-omgewing gevind is. Die leeu se kop en pote is Woensdag ná sy inhegtenisneming teruggevind.

Die saak is tot 9 Februarie uitgestel wanneer Bale na verwagting om borgtog gaan aansoek doen. Hy bly in aanhouding.

Verlede week is nog drie leeus op ʼn plaas suid van Polokwane in Limpopo doodgemaak en hul koppe en pote is verwyder. Dit is soortgelyk aan sake wat vroeër ook in Tzaneen, Mara en Hoedspruit aangemeld is.

Die leeuslagtings hou moontlik verband met die plaaslike moetie-mark, wat onder meer vir bemagtiging of kriminele elemente aangewend kan word. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Hierdie tipe dade (onder andere) getuig mos sonder twyfel dat daar aan wreedheid voorkeur gegee word? Moetie? regtig? ek is dan onder die indruk almal wil nou SO graag grênd wees en als van die beste hê en doen. Dan is allerhande sulke dinge nie meer veronderstel om gedoen te word nie. Of hoe?

vermeende ·

Maroela julle help om ons taal te verkrag.

Die mems het n liggaam en n dier n karkas, as julle nie Afrikaans reg kan gebruil nie plaas dan maar eerder die artiekels in Engels.

LIGGAAMSDELE???

Janie Monsieur ·

Dagsê vermeende,

Dankie vir jou kommentaar. Volgens die sesde weergawe van die HAT is “liggaam” die fisieke struktuur van ‘n mens of ‘n dier. Dus is die gebruik van “liggaamsdele” in hierdie konteks nie verkeerd nie.

Groetnis
Janie nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.