Nog vyf vas oor tenderbedrog by polisie

(Argieffoto)

Nog vyf verdagtes is in hegtenis geneem in verband met grootskaalse beweerde tenderbedrog by die polisie. Twee van dié verdagtes is vir ʼn tweede keer in hegtenis geneem in verband met die saak nadat hulle in Junie vanjaar op borgtog vrygelaat is.

Die vyf verdagtes is Vrydag deur die spesiale nasionale teenkorrupsie-taakspan in hegtenis geneem. Dit bring die getal verdagtes wat reeds in verband met die toekenning van ’n tender van nagenoeg R56 miljoen om onder meer handelsmerk-kentekens op polisievoertuie aan te bring, op 41 te staan.

Kol. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie, sê twee van die vyf verdagtes wat Vrydag vasgetrek is, is polisielede: ʼn kolonel, asook ʼn administratiewe werker by die polisie se afdeling vir verkrygingsbestuur. Die ander drie is burgerlikes.

Twee van die drie burgerlikes wat vasgetrek is, is aanvanklik in Junie vanjaar, saam met die eerste groep verdagtes, in hegtenis geneem. Hulle is in die Pretoriase landdroshof op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Die twee is Vrydag weer in hegtenis geneem, dié keer vir meineed. Volgens Mathe het hulle onder eed gelieg dat hulle nie enige vorige veroordelings het nie.

Al vyf sal na verwagting Maandag in die Pretoriase landdroshof verskyn en staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en meineed. Hulle sal dan formeel om borgtog kan aansoek doen.

“Die moontlikheid van nog inhegtenisnemings in die saak kan nie uitgesluit word nie,” het Mathe gesê.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, sê die inhegtenisneming van die polisielede moet ʼn streng waarskuwing aan alle wetstoepassingsbeamptes stuur om van misdadigheid en korrupsie weg te bly.

“Die jongste inhegtenisnemings is ʼn aanduiding dat ons daartoe verbind is om korrupsie in ons geledere te beveg. Welgedaan aan die span wat voortgaan om korrupsie uit te roei,” het Sitole gesê.

Mathe het gesê die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is ook tevrede met ʼn besluit van die arbeidshof om ʼn aansoek van die hand te wys dat die interne tugprosesse teen sewe van die beskuldiges ʼn onregverdige arbeidspraktyk is. Die hof het die dringende aansoek, wat namens die sewe deur die vakbond Popcru ingedien is, met koste van die hand gewys.

Die hof het beslis hy het nie die jurisdiksie om in te gryp by tugstappe wat nog nie afgehandel is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

EN SO GAAN DIT MAAR AAN, WORD GEVANG – BORGTOG EN DAN GAAN DIT NET VERDER EN RAMPIE DOEN NIE VEEL OM DIT TE STOP NIE, WONDER WAT HET HULLE TEEN HOM!!!!!

Marius

Die boodskap sal eers sterk wees as almal vir langer as tien jaar in die tronk moet gaan sit , en dit sal nie eers reg wees nie want die belastingbetaler moet daarvoor ook nog betaal . Onbevoegde mense in poste wat aanleiding gee tot sulke dade . Stel die regte mense aan en vergeet van kleur of ras en sien die verskil .

Persheks Adri

Cele se trots! Wonder waar is hy en wat het hy te sê? Ja ons kan sien Cyril is baie ernstig oor korrupsie… Eish Cyril your people man!

Jakes

Die norm van korrupsie en plundery is dekades reeds met ons. Daar word nie voorbeelde van kriminele gemaak wat skuldig is nie en ander sien dit dan as n manier om ook vinnig ryk te word.

Androclus

Wolwe in skaapskleed.Die polisie van vandag.