Nóg vyf vas wat motoriste op R80 voorlê, beroof

(Argieffoto)

Nog vier mense, onder wie ʼn 19-jarige man, is in hegtenis geneem in verband met ʼn vlaag gewapende rooftogte in die Theo Martinspoort-Magaliesberg-omgewing langs die R80 in die weste van Pretoria.

Vyf verdagtes is verlede week in verband met die voorvalle aangekeer.

Die rowers lê niksvermoedende motoriste en verbygangers op die roete voor en bestook hulle soms met klippe, waarna die slagoffers beroof word. Minstens een slagoffer is in een van die voorvalle vermoor.

Brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê verskeie slagoffers het die afgelope week na vore gekom. Sommige van hulle het reeds klagtes by die polisie aanhangig gemaak, terwyl ander dit vroeër nog nie formeel aangemeld het nie. Saakdossiere is nou ook vir dié voorvalle geopen.

Peters het gesê die noue samewerking tussen die polisie en die slagoffers – in ʼn ondersoek wat deur aanklaers gelei word – het tot die jongste inhegtenisnemings gelei. Drie van die vier verdagtes word reeds verbind met ʼn moord in die Akasia-omgewing verlede maand.

“Die vierde verdagte, ʼn 19-jarige, word verbind met twee voorvalle van gewapende roof. Een daarvan is in Mei vanjaar in Pretoria-Noord aangemeld, terwyl die tweede voorval in Augustus by die Hercules-polisiestasie aangemeld is,” het Peters gesê.

Die Gautengse polisiehoof, lt.genl. Elias Mawela, het die bykomende inhegtenisnemings geloof.

“Ons werk as die polisie is om te verseker dat ons gemeenskappe ten alle tye veilig voel. Die harde werk deur die span ondersoekers en die vrugte wat dit reeds afgewerp het, gaan nie net die vlaag van terreur in die Theo Martinspoort-Magaliesberg-omgewing langs die R80-Mabopane-hoofweg beëindig nie, dit gaan help om openbare vertroue in die polisie te herstel,” het Mawela gesê.

Die verdagtes verskyn binnekort in die hof.

De polisieondersoek duur intussen voort en nóg verdagtes kan moontlik in hegtenis geneem word.

Die polisie het ook ʼn beroep op ander slagoffers gedoen om na vore te kom.

“Die polisie waardeer die rol wat mense speel om waardevolle inligting te verskaf wat help met die ondersoek,” het Peters gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Annette ·

Dankie aan die SAPD. Ons hoop nou net dat die misdadigers nie weer op borg vrygelaat gaan word nie.

Jakes ·

Dit is verblydend dat die polisie hierdie kriminele aankeer want dit het begin lyk na n nuwe stokperdjie wat momentum kry.

Jacobus ·

Jammer. Dis ‘n simptoom van kriminele wat gedink het dat, soos hulle politieke gode, hulle niks gaan oorkom nie. O, ek hoop ek is verkeerd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.