Nog waterprobleme in Pretoria

Argieffoto (Foto: ID-165106/Pixabay)

Die Tshwane-munisipaliteit sê hy is Saterdag laatmiddag eers in kennis gestel dat Rand Water watertoevoer van die Vlakfontein-reservoir afgesluit het.

Dié reservoir verskaf water aan streke 3, 4 en 6 – hoofsaaklik die oostelike deel van die stad.

Phillip Nel, woordvoerder van die departement van water en sanitasie vir die munisipaliteit, sê die reservoir is Vrydag gesluit vir herstelwerk. “Na verwagting sal die werk teen Sondagaand om 19:00 afgehandel wees.”

Die munisipaliteit is nie kennis gestel deur Rand Water oor die opskorting van watertoevoer nie. “Ons het die saak reeds eskaleer. Die groot kommer is dat ʼn verlies aan watertoevoer kan beteken dat sommige gebiede se water moontlik kan opdroog.”

Die munisipaliteit maan inwoners om water intussen spaarsamig te gebruik terwyl dringende gesprekke met Rand Water voortduur. Die munisipaliteit hoop om die watertoevoer vroeër te herstel.

Lesers van Maroela Media het bevestig dat hulle reeds sonder water sit in Silver Lakes.

Maroela Media het vroeër berig inwoners in Pretoria het dae wateronderbrekings beleef ná ʼn kragonderbreking by die Mapleton-pompstasie in Ekurhuleni. Woonbuurte soos Garsfontein, Moreletapark, Mooikloof, Mamelodi, Cullinan en Waterkloof het onder andere wateronderbrekings beleef. Rand Water kon in daardie stadium 46% minder water as normaalweg pomp en die vloei van water in sy eie reservoirs was uiters beperk. Die watertoevoer na Tshwane se reservoirs was gevolglik ook beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.