Nominasies vir tussentydse SAUK-raad

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

LP’s het Dinsdag die name van 17 mense voorgelê om oorweeg te word vir die tydelike raad van die SAUK.

Die ANC het agt benoemings ingedien. Die party het Mathata Tsedu, Rachel Kalidass, David Niddrie, Krish Naidoo, Febe Potgieter-Nqubule, Sulungeka Dazana, Khanyisile Kweyama en Steve Motala voorgestel.

Die DA het John Mattison, Tanja Bosch, Mpumelelo Mkhabela, Jack Devnarain en Michael Markovitz genomineer.

Die SAUK is al ʼn geruime tyd sonder ʼn raad nadat prof. Mbulaheni Maguvhe, voorsitter van die SAUK-raad, in Desember bedank het. Hy was die enigste lid van die raad wat aanvanklik geweier het om te bedank. Vuyo Mhlakaza en dr. Aaron Tshidzumba het in November bedank, terwyl Leah Thabisile Khumalo, die SAUK-raad se adjunkvoorsitter, einde Oktober haar bedanking ingehandig het. Krish Naidoo en Vusi Mavusa het op 5 Oktober in die parlement bedank, waar hulle voor die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie verskyn het.

Die ad hoc-komitee wat deur die parlement aangestel is om die SAUK te ondersoek het verlede week sy werk voltooi en ʼn finale verslag met aanbevelings aanvaar.

Volgens wet kan LP’s ʼn tussentydse raad van vyf lede voorstel wat vir ʼn maksimum tydperk van ses maande kan dien. LP’s sal oor die volgende paar dae konsensus probeer kry oor die vyf suksesvolle kandidate.

Die lys sal dan aan die Nasionale Vergadering gestuur word vir goedkeuring waarna pres. Jacob Zuma amptelik die nuwe raadslede moet aanstel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.