Nood groot ná George-vloede

Reën val steeds hard in George (Foto: Gerrie Pretorius, Twitter)

Die water het soos ʼn rivier in die strate afgeloop, terwyl inwoners magteloos staan en toekyk hoe die water in hul huise en motors stroom. Hier en daar het besittings en selfs klere in die water gedryf.

Dit is die tonele wat Maandag in George in die Wes-Kaap afgespeel het. Swaar reën het sedert Sondagmiddag uitgesak en teen Maandagoggend tot erge vloede in dié kusdorp gelei. Teen Dinsdagoggend het die reën skietgegee en daar is omtrent geen meer teken van water wat ʼn dag tevore nog vensterbankhoogte gestaan het nie. Al wat nou oorbly, is ʼn dringende nood in die gemeenskap.

Inwoners en instansies in die dorp het hande gevat om diegene wat deur die ramp geraak is, te help.

Ds. Natie Stander, leraar aan die NG Kerk George-Bergsig, het in samewerking met drie noodverligtingsorganisasies – Badisa, Cremhog en SA Harvest – ʼn projek van stapel gestuur om te help waar die nood die grootste is.

Die projek fokus onder meer daarop om uit te reik na behoeftiges in informele nedersettings en haweloses wat erg deur die vloede geraak is. Een van dié nedersettings is in Blanco wat langs die rivier geleë is.

“Die water het deur die inwoners se sinkhuise gespoel. Hul klere, beddegoed en kos het met die rivier afgedryf,” vertel Stander aan Maroela Media.

“Haweloses is uitgelewer aan hul eie genade omdat skuilings vol is. Die projek beywer hom om met tydelike skuiling te help en droë klere en kos uit te deel.”

In samewerking met SA Harvest fokus die projek daarop om droë rantsoene en nie-bederfbare kosse aan behoeftige inwoners uit te deel.

Die kerk se gemeentesentrum word as afsetgebied gebruik waar die gemeenskap kosdonasies kan aflaai. ʼn Gedeelte van die gemeenskapsentrum het self waterskade opgedoen.

‘Van ryk tot arm geraak’

Volgens Stander is die skade en gevolglike nood groot in die gemeenskap.

“Van armes tot rykes is geraak. Maar uit die negatiewe is dit wonderlik om die welwillendheid onder mense te sien. Mense wat self skade gely het, gaan uit hul pad om ander in nood te help.”

Die dorp is Maandag byna tot ʼn stilstand geruk en die munisipaliteit het inwoners versoek om tuis te bly. Winkels en skole was gesluit. Dinsdag het opruiming- en herstelwerk afgeskop en mense het weer teruggekeer werk toe.

“My oë het gerek om motors omtrent heeltemal onder water te sien,” vertel Stander.

Volgens Christa de Meyer, koster van NG Kerk George-Bergsig, was dit ʼn vreesaanjaende prentjie om te sien hoe die water in die strate opstoot.

“Die water het soos ʼn rivier in die strate afgekom en als in sy pad meegesleur,” vertel De Meyer.

“Van ons bure moes poele water uit hul huise vee. Mense se motors wou nie vanoggend aanskakel nie weens waterskade.”

Ironies genoeg sit inwoners in die ooste van die stad tans sonder water ná ʼn hooftoevoerwaterpyp Maandag gebars het. Volgens die munisipaliteit is daar nog nie duidelikheid oor hoe lank dié inwoners sonder water gaan sit nie.

Dele van die stad het teen Dinsdagoggend ook steeds kragonderbrekings ervaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Shakespeare ·

Water en vuur kan skrikwekkend wees. Sterkte aan almal wat skade gely het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.