Nooddienste ‘weekliks’ aangeval

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Vakbond wat duisende gesondheidswerkers in Suid-Afrika verteenwoordig het vandeesweek sy kommer oor die toename in aanvalle op nooddienste uitgespreek. Die vakbond Hospersa meen boonop dat soortgelyke voorvalle sal toeneem tydens die feestyd.

Na raming is sowat 100 aanvalle op nooddienste reeds landwyd vanjaar geloods. Dit kom neer op meer as twee aanvalle per week. Dié getal sal na verwagting die hoogte inskiet tydens die feestyd, wat duisende mense sonder die nodige hulp sal laat.

Volgens Hospersa is die aantal aanvalle op nooddienste aan die toeneem, veral in gebiede in en rondom die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng.

Die mees onlangse voorval het Maandag in Vredenburg in die Wes-Kaap plaasgevind, toe twee paramedici deur ʼn onbekende aantal verdagtes oorrompel is. Albei het ernstige beserings opgedoen, terwyl een van hulle na ʼn plaaslike hospitaal geneem is vir behandeling.

Verlede maand is ʼn paramedikus in KwaZulu-Natal doodgeskiet toe ʼn aantal gewapende mans op ʼn ambulans toegesak het. Die oorledene se kollega het ernstige beserings opgedoen en is in ʼn bestendige toestand na ʼn hospitaal geneem.

Kaapse brandbestryders het ook verlede maand onder sporadiese aanvalle deurgeloop toe hulle in drie afsonderlike voorvalle met klippe bestook is. Die brandbestryders het ongedeerd daarvan afgekom.

“Ons is bekommerd dat dié soort aanvalle vinnig sal toeneem voor en tydens die feestyd. Dit is onaanvaarbaar dat nooddienspersoneel in vrees moet lewe om hul werk te doen,” sê Waheed Hoosen, hoofsekretaris van Hospersa.

“Hoewel dit nooddienspersoneel se plig is om op alle noodoproepe te reageer, moet dit nie ten koste van hul lewens gedoen word nie. Dit is betreurenswaardig dat daar steeds individue is wat noodoproepe maak met die doel om nooddienspersoneel te beroof of te vermoor.”

Hospersa het sulke aanvalle ten sterkte veroordeel en ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn veiliger werksomgewing vir alle nooddienspersoneel te verseker.

“Ons kan nie dit toelaat dat die regering voortgaan asof nooddienspersoneel nie geredelik aangeval en vermoor word nie,” sê Hoosen.

“Die regering het ʼn verantwoordelik om die veiligheid van alle nooddienspersoneel te verseker terwyl hulle broodnodige mediese dienste verskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Weier net eenvoudig om in gevaar areas in te gaan.Merk dit met ‘n swart kol op julle kaart en as iemand nie diens kry nie verduidelik dat dit as gevolg van misdaad en ‘n onveilige terrein vir nooddienste.

Willem ·

Hoekom moet noodpersoneel aangeval word? Hoe siek is dit? Dit gebeur nie eers in oorlog tye nie , geen hoop vir die gemors nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.