Noodfonds gestig na kinderhuis-roof

Die ingang van die President Kruger Kinderhuis. Foto: Verskaf

Die ingang van die President Kruger Kinderhuis. Foto: Verskaf

Solidariteit Helpende Hand het ’n noodfonds gestig vir die President Kruger Kinderhuis in Pretoria wat Woensdag in die vroeë oggendure beroof is.

Maroela Media het vroeër berig dat die kinderhuis se twee bussies en die kinders se fietse gesteel is. Een van die bussies is reeds met behulp van ʼn ingeboude opsporingstoestel tot by ʼn hof in ʼn dorp in Mpumalanga opgespoor. Dit bussie is egter nog nie terug by die tehuis nie, en hulle weet nog nie in watter toestand dit is nie. Die ander bussie is steeds nie gevind nie.

Volgens Retha van der Merwe, bemarker van die kinderhuis, was die bussies verseker, maar die geld wat hulle vir die vermiste bussie sal kry, sal nie naastenby genoeg wees om dit te vervang nie. Sy vertel dat die bussies van onskatbare waarde vir die kinderhuis is omdat die kinders elke dag daarmee skool toe en terug vervoer word.

“Dit is vir ons baie hartseer dat weerlose kinders wat reeds moeilike lewensomstandighede moet trotseer op so manier slagoffers van misdaad in ons land moet wees,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Helpende Hand wil graag die kinderhuis in hierdie krisistyd so ver as moontlik help en bystaan. Daarom het ons reeds R10 000 tot ʼn noodfonds bygedra. Ons droom is dat, met die ondersteuning van die publiek, ons in staat sal wees om soveel as moontlik van die kinderhuis se verliese te kan vervang.”

Die President Kruger Kinderhuis huisves tans 63 Afrikaanse kinders tussen die ouderdom van twee en 18 jaar. Die kinders word op grond van ʼn hofbevel as gevolg van verskeie redes by die kinderhuis geplaas.

Helpende Hand doen ’n beroep op die publiek om tot die noodfonds by te dra deur “Kinderhuis” na 38969 te SMS en sodoende R10 te skenk. Persone wat graag direkte inbetalings wil doen, kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

DANKIE Solidariteit Helpende Hand- met die sms maak jul dit baie maklik vir mens om te help!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.